Wie is ek?

Ek is ʼn aktiewe leser en lees bykans enige iets van kinderboeke tot niefiksie, maar ek sit maklik ʼn vervelige boek neer. Tyd is te kosbaar om te mors.  Ek droom al jare oor my eie blog met geen idee waaroor ek werklik wil skryf nie. My eerste domein (woordkuns) was al meer as 10 jaar gelede geregistreer. Intussen het daar ‘n klompie dinge gebeur en het ek hierdie domain in 2022 geregistreer. En so probeer ek maar weer blog … en ja, dis seker nooit te laat om te begin nie.

Ek het eers saam met ʼn maatjie of drie geskryf, maar so het almal maar weer met hulle eie dinge besig geraak of dalk het hulle besef hier gaan hulle nie famous raak nie … nou skryf ek weer alleen.

Dis dalk presies hoe dit moes wees reg van die begin af toe ek hierdie domein geregistreer het. Ek hoop julle sal my skriffels geniet. Ek is hart en siel Afrikaans, maar ek gaan skryf soos ek praat en hoop julle sal dit nie steurend vind nie. Daar sal ook skriffels in Engels verskyn … net oor dit so móét wees. Ek het mos darem Engelse maatjies regoor die wêreld.

Bietjie meer oor myself … ek werk al sedert 1989 in finansiële afdelings in verskillende bedrywe:  van bemarking, tydskrifte, uitgewers, motorbedryf, landbou, klere, sekuriteit, ingenieurs, opleiding, versekering tot by konstruksie.  Ek het selfs al in ʼn oomblik van desperaatheid ~ of was dit waansin ~ om my inkomste tuis te genereer hof tikwerk gedoen. Dis baie alleen … jy werk in doodse stilte en al wat jy hoor is hierdie stem in jou ore wat jy op papier moet vaslê. Dis vreeslik interessant, maar depressing.

Ek is al sedert 2010 ʼn vryskut in die uitgewersbedryf en geniet elke oomblik daarvan.  Ek is betrokke by e-publikasies en oudioboeke. Wat ʼn interessante wêreld gaan vir ʼn mens oop!

Ek is ook ʼn baie aktiewe crafter en kan enige iets doen van decoupage, lapverf, mosaïek, naaldwerk, hekel, juwele maak, en so meer.  Dis geweldig duur om ʼn crafter te wees … mens koop sommer goed net oor dit mooi is en dan het jy nog geen idee wat jy daarmee gaan maak nie! Ek het al die kuns vervolmaak om voorraad te koop sonder dat my (gewese) huismaats weet.  My motor se kattebak is gróót!

In 2020 het die Corono-virus vir ons ʼn behoorlike curve ball gegooi … en ek het 50 geword!! What now, what next? Is daar nog tyd om my soul mate te ontmoet of nie? Bestaan daar werklik so iets soos dat ons elkeen ‘n soul mate het? Gaan ek my drome kan bewaarheid om my goue jare aan die Weskus deur te bring en my passie uit te leef om te gesels, lees, skryf en elke dag saam met my prins hand aan hand langs die see te stap. Net die tyd sal leer!

Intussen probeer ek weer blog, sit met ‘n kortverhaal of drie in my kop en hopelik sal hierdie jaar my skryfjaar wees.

Ek hoop julle geniet my skriffels!

Sue