ISBN 978-1-991256-98-0, Naledi Uitgewers
Stefaans Coetzee se nuutste publikasie, sel ses, bestaan uit nege kortverhale – een vir elke jaar wat Stefaans al op parool is. Saam vertel hierdie nege kortverhale vir ons ʼn klein stukkie van Roux Steyn se storie en hoekom hy werklik daar sit.
Na drie en twintig jaar in die tronk het Roux Steyn nou ʼn kans op parool, maar hy moet een jaar sonder geweld teen hom hê voordat hy in aanmerking kom. Hoe hy dit gaan regkry weet hy nie, want hy het die Anger Management-kursus al drie keer gefaal, maar: “Hy kan skoon loop. Vir sy dogter kan hy ʼn jaar lank almal se kak opvreet.” (bl. 47)
Soos Roux se verhaal ontvou, besef mens dat die tronk is nie vir sissies nie. Saam met Roux kom ons ook agter dat alles nie altyd is soos wat dit lyk nie. Op ʼn stadium kyk die geharde tronkbendeleier vir die eerste keer in sy lewe op na bo en ons besef hy is ook net ʼn verlore mens. “’n Gil klief uit sy keel. Laat my vrek voor ek mal word.” (bl. 59)
Hy voer ʼn skrikbewind as bendeleier en dwelmsmous en het al genoeg vyande gemaak wat sy besigheid sal wil oorneem. Hy word van beide kante deur die bewaarders en die ander tronkbewoners uitgedaag om weer te faal. “Roux pluk die mes uit. Kong struikel, val. Gil. Roux troon oor hom uit; klap die mes op die tafel neer.” (bl. 61)

Ek het hom werklik jammer gekry. Die tronklewe het hom in ʼn monster verander, maar binne elke monster skuil ook ʼn mens, ʼn man, ʼn broer en ʼn pa. Lees gerus sel ses en maak jou hart oop vir die Rouxs en die oom Blesse van die lewe. Moet ook nie vergeet van Babyface en Queen Africa nie – dit laat mens voel daar is minder veiligheid binne die tronkmure as daarbuite.
Die einde is verrassend, en bevestig net dit wat jy reeds raakgelees het en vul jou met dankbaarheid … vir die buitekant van die vierhoeke.
Bestel jou kopie aanlyn by Naledi Uitgewers, Graffiti Books of direk by Stefaans Coetzee. Die boek se prys is R260, koerier koste is addisioneel.
