Irma Venter bewus geraak met die lees van haar S-reeks: Skoenlapper (2012), Skrapnel (2013), Sondebok (2014), Skarlaken (2015), Sirkus (2017), Sondag (2018) en Sewe-en-veertig (2019).
Tóé reeds het ek met die lees van elke boek gevoel dat sy net beter word hoe meer sy skryf. Wanneer jy dink daar is nie meer ruimte waarin sy nóg beter kan raak nie, begin sy die Ami Prinsloo-reeks: Minder as niks (2021), Die verkeerde vrou (2022), Al wat tel (2024) en Die drie weduwees (2025).
Haar navorsing is ongelooflik volledig en sou daar ʼn foutjie êrens insluip sou die leser haar daarvoor kon vergewe. Maar hierdie leser lees nie om foute te soek nie, nee … ek lees suiwer vir die ontspanning wat dit my bied, asook vir die ontsnapping uit my gewone wêreld. Ami Prinsloo is beslis my gunsteling vroue karakter onder Suid-Afrikaanse misdaadfiksie.
Die drie weduwees is die vierde boek in Venter se Ami-reeks. Ami Prinsloo is ʼn misdaadverslaggewer wat gewoonlik “above and beyond” gaan om te help om die skuldiges aan die pen te ry. Mens wonder soms wanneer haar metodes teen haar gaan begin tel. Haar inligting word nie altyd wettig verkry nie en sy moet baie versigtig wees hóé sy die nuus in haar berigte breek.
Meer oor Die drie weduwees …
Ami het ʼn vriendskap opgebou met die polisiegeneraal, Paul de Jager. Voor sy aftrede was hy een van haar bronne in die polisie, natuurlik eers baie onwillig. Na sy aftrede word hy met alzheimers gediagnoseer. Na sy dood gee hy haar ʼn laaste opdrag: Sy moet met die hulp van sy drie eksvrouens na ʼn stokou onopgeloste saak kyk.
Die drie weduwees – soos hulle genoem word – is niks lus vir die opdrag nie en wil hê dat Ami dit los.
Die saak: In 1998 verdwyn ʼn 15-jarige seun van Pretoria een Sondagoggend op pad kafee toe en niemand kry hom, lewend of dood, nie. Daardie tyd het daar heelwat kinders uit die Moot verdwyn en die polisie het Eberhard Gouws se verdwyning daaraan koppel. Daar was egter geen bewyse daarvoor nie.
Ami besluit om wel met die ondersoek voort te gaan. Tydens haar ondersoek kom sy agter dat Eberhard Gouws se ma nog steeds nie moed verloor het dat haar kind kan huis toe kom nie – ten spyte van die 25 jaar tydsverloop.
En toe verdwyn nog ʼn kind … min of meer in die tyd toe ʼn pedofiel op parool vrygelaat word.
Ami se ondersoek krap al hoe meer raaisels oop en ʼn onverwagte meevaller in ʼn getuie met fisiese bewyse, wat nóg ʼn getuie openbaar, bring Ami al hoe nader aan die oplossing.
Jy sal nie een vervelige oomblik hê met die lees van Die drie weduwees nie. Jy mag dalk – soos ek – die boek proe-proe lees om die lekker langer te laat hou.
Ek het nie die skuldige vermoed nie … nie eens naastenby nie.
Ek het Die drie weduwees op Libby (aanlyn-biblioteek) gelees.
Van Irma se boeke is ook opAmazon Audible beskikbaar, en vyf van haar titels is in Engels vertaal. Lees gerus meer oor Irma Venter op haar webblad. Haar boeke word uitgegee deur Tafelberg, ‘n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers.
