ʼn Huis vir altyd deur Cecilia Nortjé

ʼn Huis vir altyd is een van Cecilia se 2020 liefdesverhale en ek het lekker op die Libby App gelees aan hierdie dik boek.

Milan is ons heldin wat na haar ontroue man se dood in ʼn vliegtuigongeluk, haar rykmanslewe vaarwel moet roep en platsak Vaalkrans toe moet vlug en besit neem van ʼn erg verwaarloosde huis van haar man se tante. Sy moet gewoond raak aan bure wat sommer net in stap by jou huis en op ʼn dorpie te woon waar almal anders meer weet van jou lewe as jyself.

Ons beleef hoe sy haarself weer uit die put moet kry en deel in haar lief en leed op haar nuwe dorp. Sy leer gou haar bure is nie net nuuskierig nie, maar gee om vir haar. Haar benarde finansiële situasie kry haar gelukkig nie onder nie. Sy sien potensiaal in tannie Corrie se huis en begin uiteindelik ʼn leefstylwinkel. Sy is kreatief en ontwikkel in ʼn sakevrou van formaat.

Kort voor lank bevind sy haar in ʼn onkonvensionele tweede huwelik met ʼn kits gesin van drie kinders. Sy sluit ʼn vriendskap met Marietjie, die dominee se vrou – iets wat sy nooit in die stad sou doen nie!

Die boek eindig vir my op ʼn totale antiklimaks – glad nie wat ek verwag het nie, maar ek is tog opgewonde toe ek sien daar is wel ‘n tweede boek.

ʼn Kans op vir altyd (2021) vertel hopelik nou die res van die storie soos ek dit in my kop wou hê, maar nou is die boek op my Libby waglys en ek moet geduldig wag. 😕

PS: Gaan Sue-Ann en Estie ook elkeen ‘n storie kry?