Ek het so pas Susca Hatton se boek: Net een leuen klaar gelees.
Ek is lief vir boeke en verstaan dat die uitgewers se publikasielyste soms tot twee jaar vooruit beplan is. Dis ‘n baie groot rede waarom daar soveel skrywers is wat deesdae self hul boeke uitgee.
Die rede waarom ek versigtig is met die aankoop van self publikasies is omdat daar redelik gesny word op kostes en dat taalversorging dan in sommige gevalle agterweë bly.

Wat uitstaan van NET EEN LEUEN is dat Susca haar debuut-boek nie net self uitgegee het nie, maar dit in samewerking met twee teksversorgers gedoen het. Sy het dit ook onder die mentorskap van Wilna Hennig Adriaanse geskryf.
Die boek was vir my boeiend tot op die end. Ek het nie die einde sien kom nie, maar ek sou dit dalk ook só kon eindig!
Welgedaan, Susca Hatton! 5 🌟 BOEK! Wanneer kry ons jou volgende Afrikaanse boek?
Ek wil nie te veel deel nie, want ek is te bang om die aap uit die mou te laat. Ek deel egter die sinopsis hieronder.
SINOPSIS: Behalwe vir haar kloustrofobie, is Emily van Lynden se lewe perfek.
Êrens moes sy iets reg gedoen het om ’n man soos Zander te kry. ’n Man wat haar liefhet, ten spyte van haar eienaardighede. Nuus dat Zander vermoedelik in ’n motorbomontploffing oorlede is, verpletter Emily se perfekte lewe.
Wanneer Zander ’n paar dae later ongedeerd by die huis opdaag en daarop aandring om Alex genoem te word, voel dit vir Emily soos die begin van die einde. Haar eens liefdevolle man is nou afsydig, koud, intimiderend, en selfs by tye wreed.
Klein ruimtes is nie meer haar enigste vrees nie. Haar vrees het ’n stem gekry en ’n gesig. Die gesig van die man wat sy liefhet.
