Die vyf susters

DIE VYF SUSTERS deur Eleanor Baker as Alex Muller

Uitgegee deur Human & Rousseau, ʼn druknaam van NB-Uitgewers

ʼn Heerlike speurverhaal wat jou aan die raai gaan hou tot vlak by die einde van die boek, want almal het ewe veel rede om skuldig te wees.

Die vyf ongetroude Delport-susters woon saam in hul oorlede ouers se huis. Wanneer die oudste suster, Rosa, laat een Saterdagaand koelbloedig doodgeskiet word, is daar dus minstens vier verdagtes.

Moord-en-roofspeurder Adriaan Kruger, wewenaar en ʼn bedrewe origami-beoefenaar, moet al sy vernuf inspan om die skuldige te probeer ontmasker. Maar dis makliker gesê as gedaan, veral wanneer sy gevoelens vir die hoofverdagte met sy gesonde oordeel inmeng.

Die vermoorde Rosa was alles behalwe ʼn geliefde persoon, en met die dinge wat uitkom tydens die ondersoek besef die polisie dat talle mense haar uit die pad sou wou hê. Sy het haar jonger susters met ʼn ysterhand regeer en terwyl drie van hulle alles gelate aanvaar het, was die jongste suster Karien allermins hiermee tevrede. 

Die tweede oudste suster, Madelief en ’n vriendin, Trish, is vennote in ʼn materiaalwinkel. Ná Rosa se dood, sien die speurder ʼn bisarre winkelvensteruitstalling wat sy ondersoek in ʼn ander rigting begin stuur.

Die tweeling, Jasmyn en Iris, het uit hul werk bedank nadat Iris met ʼn hartkwaal gediagnoseer is en Jasmyn besluit het om tuis na Iris om te sien. Hulle was dus toe skielik bedags baie meer in Rosa se teenwoordigheid.

Karien is die jongste van die vyf susters wat ook die hoofverdagte in saak is. Adriaan is teësinnig om haar as hoofverdagte te sien. Nadat sy een van origami-kunswerkies reg identifiseer is dit asof hy meer gemotiveerd raak om haar onskuld te bewys.

Daar is die raaisels van die gesteelde TV, skildery en .38 Special rewolwer uit die Delport-susters se huis, asook die verwaarloosde huis en tuin, asook ʼn duidelike tekort aan geld en die terugkeer van Karien se gewese kêrel, Phillip, wat oral opduik en teësinnig is om te verduidelik wat hy daar soek.

Daar is duidelik baie geheimsinnigheid tussen die susters en Adriaan weet hulle lieg vir hom, maar hoe bewys hy dit? Die groot vraag is: wie is die werklike skuldige? Gaan Adriaan se intuïsie hom die keer in die steek laat of gaan geregtigheid seëvier?

Die vyf susters is die eerste titel in ʼn reeks van vyf ligte spanningsverhale wat tussen 1998 en 2003 deur die gewilde skrywer Eleanor Baker onder die skuilnaam Alex Muller geskryf is. Ek lees nog van altyd af, maar ek kan beslis nie onthou dat ek hierdie reeks van Eleanor Baker gelees het nie. Ek sien dus baie uit na die res van die reeks.

As jy hou van ʼn goeie speurverhaal, maar nie al die bloed en wreedheid van ʼn krimi of riller kan hanteer nie, is hierdie ʼn lekker whodunit waar jy lekker leunstoel-speurder kan speel saam met Adriaan.

Ek kan nie wag om nog moorde saam met Adriaan Kruger op te los nie.