Agter my lê 2019

deur Surene Esterhuizen

Dis so ʼn cliché, maar soos die meeste mense maak ek soms voornemens vir die nuwe jaar – 2019 was geen uitsondering nie.

Daar was soveel dinge wat ek graag hierdie jaar wou doen. Ek is ʼn procrastinator en as ek nie werk met ʼn doelgerigte plan nie, gebeur daar niks of byna niks. Ek is ʼn bietjie ADD – ek raak gou verveeld met projekte veral as dit groot projekte is wat lank gaan neem. Wanneer daar ʼn vasgestelde patroon en kleure is om te volg, raak ek ook gou “verveeld” met die projek. Daarom is daar altyd ʼn paar projekte aan die gang om my so bietjie in toom te hou.  Die probleem is dit hou my so in toom, dat daar soms byna niks gebeur nie! Ek het Desember 2018 ʼn Facebook groep begin waar ek ag onvoltooide projekte gelys het en so daarmee commit het om daardie projekte te probeer afhandel.  Ek het vyf daarvan voltooi gedurende hierdie jaar en is tans besig met die sesde projek. Al ag gaan nie voltooi wees nie, maar ek is nogtans tevrede dat ek meer voltooi het as wat ek sou doen as ek nie ʼn commitment gemaak het nie. My gunsteling voltooide projek was die kombers vir my seun.

2019 was ook die jaar waar ek vir die tweede keer probeer het om ʼn Sertifikaatkursus te  voltooi deur Passion for Truth Bybelskool. Oor die twee jaar periode het ek darem drie, amper vier modules voltooi. Ek het nog ses modules oor en gaan ʼn daadwerklike poging aanwend om daardie ses te voltooi gedurende 2020.
Oor die ander kursus praat ek nie nou eers nie … there was just not enough time!

So paar jaar gelede het ek gehoor van ʼn Saam skryf-geleentheid vir vroue. Ek wou graag saam skryf, maar ek kon dit nie tóé doen nie. Hierdie jaar het die geleentheid weer my pad gekruis en ek het dit met albei hande aangegryp. So het ek deel van die #EKOOK boek geraak: ek en 69 ander vroue het saam met Susan Coetzer geskryf. Die sentrale tema was oor goed soos: Voel jy nooit goed genoeg nie? Of jy omtrent niks reg kan doen nie? Voel jy nutteloos en oorweldig? Wel, jy is nie alleen nie!  My skriffel was:  Te veel hooi op jou vurk! My skriffel is in ʼn boek wat landwyd te koop is, en my naam in druk!

As jy ʼn droom het om te skryf, is die Saam skryf-projek beslis ʼn goeie plek om te begin. Droom jy oor skryf? Raak skryf fiks en commit jouself daartoe om op vasgestelde tye te skryf.

Op die vooraand van 2020 besluit radio-omroeper en mede-blogger, Annette Havenga, dat dit tyd is om my by Jou Stasie op die lug te kry. En die #EKOOK boek het haar sommer meer gedetermineerd gemaak om my daar te kry. En vandag, 28 Desember 2019, was dit sulke tyd. Ek is natuurlik ʼn bietjie uit my gemaksone gegooi, maar dit was baie lekker om met Annette te gesels. Sy interview my oor my beskeie bydrae tot #EKOOK, en ons gesels sommer ook oor ander dinge soos of jy fooitjies aan kelners betaal en bietjie oor ons eie blog wat so sukkel-sukkel op dreef kom.  Ek is bevrees dat daai radio-ding verslawend kan raak. Die adrenalien van ON AIR wees en jy moet die foute hanteer soos wat dit gebeur.

2019 het uit meer bestaan as dit wat nou hier staan, maar sommige goed wil mens net nie aan herinner word nie.

2020 is ook die jaar van die groot 50 vir my … wat hou die nuwe jaar vir my in? Sal ek uitvind of dit waar is wat die mense sê? Life begins at 50!

Dis nog drie slapies … dan begin 2020.  Ek maak geen voornemens vir 2020 nie, maar wel ʼn paar commitments. I’ll keep you posted!