deur Surene Esterhuizen
28 Desember 2019 het Annette met my ’n onderhoud gevoer op Jou Stasie oor my ervaring om deel te wees van ’n saamskryf-boek. Ek was een van 70 skrywers wat saam geskryf het aan #EkOok met Susan Coetzer as die hoof skrywer. En terwyl ons so heerlik ON AIR gesels besluit Annette om ’n saamskryf-boek te doen … ek love skryf en ek dink sy het gedink ek gaan saam skryf, maar ek het op hierdie stadium nie ‘n storie binne my wat geskryf wil word nie. Ek het ander skryf-planne … 😉 Ek het myself aangestel as die projekbestuurder vir hierdie saamskryf-boek.
En by the way, voor ek nog mooi geweet het wat aangaan, het Annette alreeds plek bespreek by Canetsfontein. No turning back here.
Elsa Winckler het ons gehelp met die raamwerk van ’n storie en twee ongelooflike hoofkarakters geskep. Op papier en praat daaroor klink dit of dit ‘n super-maklike opdrag is. Kry ag vrouens om saam te skryf, elkeen kry
’n hoofstuk and Bob’s your uncle en ons het ‘n boek!! Nee! Nee! En nogmaals nee!
Dit het alles begin by die raamwerk en ek wat amper daardeur verlei is om ook saam te skryf, maar hierdie suster het verlede jaar in ‘n ander saamskryf-boek ‘n bydrae gelewer oor “te veel hooi op jou vurk” en ek moet leer om my hooi laag te hou. Ek het hierdie ongelooflike excitement gehad wat oor my gespoel het oor al die moontlikhede van hierdie storie.
Voordat ons kan begin met hierdie storie, is daar natuurlik die feit dat ons almal beskerm word deur ’n Nie-openbaarmakingsooreenkoms (NOO). Die NOO is om Elsa se storie raamwerk te beskerm totdat die projek klaar is en ons dit gepubliseer gaan kry, asook om elke skryfster se werk te beskerm. Hulle is nie veronderstel om hieroor te praat met ander mense buite die groep nie. So beskerm elkeen haar eie werk en ook die skryf-span se werk.
Ek is so opgewonde oor hierdie projek, ek slaap skaars. Soos wat ek die hoofstukke aan elke skryfster toeken, besef ek dat elkeen wat daarna kyk, ander moontlikhede raaksien as wat ek sien. Elsa het ons gebless met ’n wonderlike raamwerk en die lekker daarvan is dat soos elke skryfster haar vrae vra, vul ons sommer self die raamwerk aan. Elkeen se vrae veroorsaak dat die res van ons dink oor hierdie storie en dalk selfs na die deel wat toegeken is met ander oë kyk.
Een van Annette se bure (’n man, natuurlik) vra toe mos of dit werklik ag vrouens is wat aan een boek gaan skryf. En dit wil hy graag sien!! Dis net ’n man wat dink vrouens kan nie so iets doen nie!! Ons sal hulle wys.
Oor die volgende paar weke gaan ek die skryfsters aan julle voorstel hier op Woordkuns. 😊 Watch this space!
Skryf-groete,
Surene