Ek is Marinda van Wyk, 57 jaar jonk, getroud (vir die 2e keer), ma van 2 pragtige dogters: een in Engeland (getroud) en een in Nieu-Seeland. Ek is ook stiefma en -ouma van 3 getroude kinders en 7 kleinkinders.
Ek loop al met stories in my kop rond vandat ek ’n klein dogtertjie was, het al ’n skryf kursus gedoen en ly al sowat 50 jaar aan skrywersblok!!! 🤪🤪🤪
Ek het twee jaar aan Universiteit Stellenbosch studeer, maar egter opgeskop weens ’n familie krisis.
Ek het vir 12 jaar by Sanlam gewerk, daarna as ’n private sekretaresse vir 10 jaar en tans werk ek net op my afgetrede man se senuwees.

Terwyl manlief vir tien jaar in die Midde-Ooste gewerk het, het ons soveel as moontlik gereis; en my droom-bestemming, Europa verskeie kere besoek in my soeke na die verlore prinsesse en kastele van my kinderjare-sprokies.
Ek het vyf jaar in die Midde-Ooste gewoon, vanwaar ek gereeld by my dogter op die Franse platteland – ’n landgoed met ’n château – gaan kuier het, en nog verder saam met my man gereis het. Hy het meestal gewerk en ek gereis – so sê hy.
Ek is baie lief vir diere, maar gaga oor katte – en sal my erfporsie verruil om katte te versorg. In die Midde-Ooste het ek ál 35 katte in ons kompleks versorg – soggens en saans is hulle getrakteer op lekker kos. Manlief sê hy kon nog ’n huis bou met al die katkos-geld . . . Tans het ons twee “rescue” katte – en dis net brombeer wat my keer om nie die hele dorpie se katte onder my vlerk te neem nie.
My enigste kleinkind is ’n Duitse Herdershond, en ek gaan doen die afgelope paar jaar tydens die Europese somervakansie babysitting, aka dog sitting, vir die vierpotige kind. My dogter is terug in Engeland, en woon tans in ’n pragtige stokou historiese dorpie naby Bath, Engeland. Vandaar stap ek elke dag sowat 15 – 20 km per dag in totaal met ’n baie hiperaktiewe kleinseun. En spandeer saans wonderlike tye met my dogter. (Blessings come in many forms)
Ek is lief vir die natuur en stap graag en het in 2018 ’n uitdagende Suid-Afrikaanse “camino” van Stellenbosch tot Kaap Agulhas aangepak: sowat 420 km oor 17 dae.
Ons is nou afgetree en – behalwe vir my jaarlikse dog sitting-eskapades – reis ons nou slegs in ons drome! Ek stap en droom egter nog steeds.
Nieu-Seeland is nog op my wish list – waar ek graag my jongste dogter in Christchurch wil gaan besoek.

Ek hoop om so geïnspireerd te wees na hierdie Saamskryf-projek en Skryf naweek, dat ek so baie boeke gaan skryf en soveel sakke vol geld gaan maak dat ek kan gaan kuier vir my kinders – en my prinsesse in hul kastele ook besoek – net wanneer en solank ek wil.💃💃💃