Ons stel bekend … Skrywer Leoné

Om ’n bio oor myself te skryf is ’n groot uitdaging. Ek is Leoné Mostert, jack of all trades, master of none. Ek het in 2010 my LLB-graad aan die Nelson Mandela Metropolitan Universiteit cum laude voltooi. Ek het daarna my Meesters in Strafreg – en Prosedure met Mediese Reg as my hoof fokus aangepak. In 2012 het ek ’n BEE statistiek geword en my droom om ’n staatsaanklaer (en later advokaat) te word, het aan’t skerwe gelê.

Twee jaar later het ek my MA graad gekry – ek het die ma geword van die mooiste klein dogtertjie wat sekerlik my grootste dryfkrag (en inspirasie) is. Jislaaik, baie grade, dan het ek nog ’n ruggraat ook. Vir 5 jaar lank was ek ’n tuisbly mamma en tuisteskepper.

My uitdagings as ’n grasweduwee het gemaak dat die skryf gogga my byt en in 2017 is “Net nog ’n Moerige Mamma” gebore. Ek skryf soos ek praat en so baie mense, nie net vrouens nie, het aanklank gevind by die alledaagse dinge waaroor mense kla en hoe ek daaroor geskryf het. Toe die mislike Fibromialgie my beetkry, moes ek my hande meer laat rus en dit wat ’n geskrewe blog was, het in ’n vlog verander. Lang storie kort, “Moerige Mamma” bestaan nie meer nie. Ek het haar ingeruil vir die lewe van ’n omroeper by Jou Stasie. Dit was seker die lekkerste werk ooit, want ek kon skielik oplees, bestudeer en gesels oor enige interessante, snaakse, bisarste onderwerp onder die son.

Skryf het maar altyd so aan my bly karring en soos ek vir meeste mense sê, ek is baie lief vir gesels, maar skryf bly my eerste liefde. Daar is ’n moontlike “sitcom” in die pyplyn – so hou maar jou skerm dop. Verder sou ek wil glo dat ek ’n lekker mens is. Ek geniet dit om lekker te eet, ’n lekker braai en ’n goeie glas Semillon, of gin, of ’n skemerkelkie, want iewers in die wêreld is die Boeing al oor.

Die lewe is maar kort jong, so eet daardie sjokolade, drink daardie wyn, gaan op daardie toer en geniet jou mense, jou kinders en don’t sweat the small stuff. My doel in die lewe is om nie eendag in ’n perfek gepreserveerde liggaam veras te word nie. Nee. Want dan het ek nie geleef nie. Soveel meer rede vir my om my Redbull in die oggend te geniet en my sigaretjie maar te rook. Die pad na my longe is reeds halfpad geteer en ek, doen niks half nie!