Ons stel bekend … raadgewende skrywer, Elsa

deur Surene Esterhuizen

Elsa Winckler is geen onbekende in skrywerskringe nie en baie gewild onder haar lesers. Sy is een van my gunsteling skrywers en het al 37 liefdesverhale in Afrikaans geskryf, asook nege kortverhale en een kinderboek. Twee van haar titels het sy self in Engels vertaal en nog drie Engelse liefdesverhale geskryf oor The Cavallo Brothers. Ek het al die meeste van Elsa se Afrikaanse boeke gelees, maar moet bieg dat ek nog nie ’n Engelse een gelees het nie en ek kan nie wag om my kloutjies op die drie-luik, The Cavallo Brothers, te lê nie.  Daar is nog twee Engelse titels in die pyplyn – of sal ek sê: skryflyn? – vir 2021.

Foto krediet: MG Photography

Elsa het in 2008 begin skryf en met haar eerste romanse: Tussen jazz en rock wen sy die rooi rose/LAPA-liefdesverhaalkompetisie. In 2009 wen sy die ATKV-Woordveertjie vir Romanses met dieselfde titel. In 2014 en 2016, doen sy dit weer, onderskeidelik met haar Satyn-romanse, Te eenders, te anders en Liefde in laslap en ook in 2019 met Blameer die skoenlapper.

Elsa skryf voltyds en dis maklik doenbaar omdat sy nie meer kinders in die huis het nie. Sy hoef net oor haar man, Theo, te faf! Elsa en Theo is al 45 jaar getroud en het 3 kinders en 4 kleinkinders. Elsa is ook ’n kranige bakster en tower graag vir haar kleinkinders die amazingste verjaardagkoeke op.

Toe ek en Annette oor ons saamskryf-projek gepraat het, het ons geweet ons moet ’n skrywer aanboord kry vir ons spesiale projek, want tussen die twee van ons het ons nie genoeg kennis om hierdie projek van begin tot einde te vat nie. Sommige van ons skrywers skryf vir die eerste keer en ons moes iemand kry wat sagkens sou werk met hulle brose skrywersiele, maar ook ferm raad kan gee. Tussen al die raadgee is Elsa ook besig met haar eie deadlines! Ons is bevoorreg om Elsa as raadgewende skrywer te hê vir ons saamskryf projek.