Dag 12 – Vroue-maand 2020

deur Surene Esterhuizen

Tyd is die een kommoditeit waaraan jy absoluut niks kan verander nie.

Foto krediet: Pexels.com

Jy het 24 uur per dag. Jy kan dit nie minder of meer maak nie. Jy kan dit nie vinniger of stadiger laat verbygaan nie. Al is daar wêreldwyd heelwat lande wat nie dieselfde minuut en uur beleef as ons nie, het ons steeds geen beheer oor tyd nie. Tyd is ook die een ding waarvan ons meestal voel ons nooit genoeg kan kry nie, maar tog mors baie van ons daardie kosbare tyd!

Wanneer ons kinders klein is, voel dit of hulle in ’n oogwink skielik grootword. Skielik eendag staan daar ’n jongman of jongdame voor jou met ’n attitude soos jou eie. Die een dag is jy 20 jaar oud en dink 50 lê nog ver in die toekoms en dan skielik staan jy op die vooraand van jou 50ste verjaardag.

Foto krediet: pexels.com

As ek jare gelede my tyd anders beplan het, wonder ek waar ek op hierdie oomblik sou wees? Beslis nie besig om hierdie blog te skryf nie. Waar sou jy wees? Waarmee sou jy besig wees? Wat gaan jy anders begin doen om meer waarde vir jou tyd te kry?