Wat maak jy met jou Vitamien W vandag?

Ek loop nou al ʼn geruime tyd – nee, ek jok, jare! – rond met die gedagte dat ek graag ʼn sabatical sal wil doen. Maar ʼn sabatical dink ek is net vir die rykes met onbeperkte fondse of mense waarvan die ander partner ten minste genoeg geld verdien vir albei sodat een van hulle net absoluut niks kan doen nie.  Mens raak so verstrengel in die dinge van die lewe dat jy by jouself verbyleef.  Dat jy by die lewe, die natuur, die mooi van wat God ons gegee het, verbyleef.  By the way, ek het nie ʼn clue wat ek gaan doen as ʼn sabatical in my skoot val nie – in elk geval nie as ek op net een plek moet bly daarvoor nie. Maar as ek kan travel vir ʼn sabatical, sien julle my wraggies nie gou weer nie. 😉

In my elke dag se leef-en-werk, leef ek toe Susan Coetzer se Bruistablette vir die lewe raak. Wow! Wat ʼn awesome boek!!  

Sy skryf in haar inleiding oor die gejaagde lewens van almal – wat al vir my soos tweede natuur voel! Daardie gejaag na niks! Sy skryf oor hoe ons boosters gebruik sodat ons tog net kan cope met die lewe.  Bruistablette vir die lewe  – iets om vir ons, haar lesers, elke dag ʼn bruistablet vol vitamiene te gee. Iets om ons die ligpuntjie in elke dag te laat raak sien … en sy gaan haal al hierdie bruistablette vir ons uit ons Vader se Woord.

Hier is ʼn paar lusmakertjies: 

  • Vitamien K’s:  Kompliment, Klere, Krag, Klei, ens.
  • Vitamien B’s: Behandel, Beter, Blom, Besitting, ens.
  • Vitamien S’e:  Sout, Selfbeheersing, Sag, Suurdeeg, ens.
  • Vitamien T’s: Taktvol, Tradisie, Tug, Telbord, ens.
  • Vitamien P’s: Positiwiteit, Presente, Poeding, ens.

Maak dit jou al nuuskierig genoeg om hierdie boek aan te koop? Ek deel graag ʼn stukkie omdat dit so perfek aansluit by ons blog – Vitamien W: Woorde.  Susan deel met ons Jakobus 3:5 “So is die tong ook maar ʼn klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ʼn Klein vuurtjie kan ʼn groot bos aan die brand steek.”

Sy skryf hier soos wat hier op woordkuns se tuisblad staan: Woorde het die potensiaal om mense te inspireer en op te bou.  Woorde bring hoop, maar net so kan dit ook afbreek.

Wat maak jy vandag met jóú woorde? Bou jy op en seën jy jou medemens of breek jy af? Hoe laat voel jy vandag jou man, vrou of kinders? Hoe laat jy jou vriende en familie voel?  Hoe laat voel jy jouself met dit wat jy elke dag vir jouself sê? Bou jy jouself op of breek jy jouself af?  Is jy net argeloos met jou gebruik van woorde en dink net: Ag, waddehel, trek aan jou big girl panties en deal met dit!

Hoe wil jy graag hê moet ander se woorde jou laat voel?  Geliefd, gewaardeer, trots?

Mag ons hemelse Pappa elke dag vir ons help om ons woorde eers te oordink voordat dit by ons monde uitglip.