Ek is ʼn rusbankreisiger … en jy?

Ek geniet al my oorsese maatjies se foto’s van hulle reise en is bitterlik jaloers oor elke tree wat hulle op vreemde grond gee, maar wees verseker – ek gun hulle elke oomblik van hulle avontuur. So was ek nou onlangs saam met twee Facebook vriende Griekeland toe. O, hene, dit was uit die boeke uit. Dis sekerlik die enigste plek ter wêreld waar die see presies só blou is.
Skrywer-vriend, Marries, het al oor die 70 lande besoek en sy target is om 100 lande te besoek. Hy is vinnig op pad daarheen! Vriendin Marinda het die voorreg gehad om ook vir ʼn paar jaar ʼn bietjie te reis en sy laat my droom oor die Franse platteland … en dat ek met soveel gemak soos sy op die vliegtuig kan spring en die wêreld verken. Een van haar reise wat ek haar beny, maar ook beslis gegun het, is … Israel. Dit op sigself sal ʼn ongelooflike ervaring wees … om in die spore van Jesus te stap op pad na Golgota. Intussen droom ek oor 5 lande: Engeland, Frankryk, Italië, Kroasië en Israel.

Engeland – daar is so baie wat ek wil sien, maar beslis is no. 1 om ʼn musiekblyspel in The West End Theatre te gaan kyk, maar dis nogal baie pricey – R1000 plus plus plus per persoon! En natuurlik, die Warner Bros Film ateljees!! En ʼn rit in ʼn rooi bus en om regte egte Engelse ontbyt tee te drink. En dan wonder ek of die telefone in daardie foonhokkies regtig werk? En die feit dat ek die res van die Britse Eilande wil sien, beteken dat ek of baie lank sal moet kuier of meer as een keer gaan!

Frankryk – die ewige cliché is om Parys te besoek en natuurlik die Eiffeltoring op jou lys van attraksies te hê. Die eintlike ding om te doen is om ʼn paar dae in die Franse Platteland deur te bring en saam met die mense hulle kultuur te beleef. But I’ll get there!

Italië – Rome!! En natuurlik die Skewe toring van Pisa! Of is dit nou die Leunende toring van Pisa? Ek het vir Mnr. Google gaan vra en albei dié kom in die soektog uit. Ek droom om deur die strate van Rome te stap, die Colosseum te besoek, ʼn draai deur die Villa Borghese Tuine te stap en nog vele meer.
Kroasië – ek verloor myself in die foto’s wat mense deel van Kroasië. Dis vir my een van dié mooiste lande in Europa. Ek kon nou nie lekker legal foto’s kry om hier te deel nie en ek het mos nog nie myne geneem nie, maar julle ken mos die pad na Mnr. Google toe.
Israel – ek gaan nog, ek weet ek gaan nog die pad na Golgota stap en Sy graf besoek. Ek wéét Vader het dit vir my uitgesit – op Sý tyd.
Ek was darem al oorsee … of sal ek sê: op see! Vir ʼn hele 5 dae! Maar meer daaroor op ʼn ander keer! Intussen, bly ek die ewige rusbank reisiger! Waaroor droom jý!