Om die spreekwoordelike naelstring te sny is geen maklik taak nie. Vra my … ek sukkel al jare daarmee. Daar is sommige mense wat dink dat my seun bietjie meer streetwise is as hulle kids, maar hy is nie werklik nie. Ek probeer om hom darem ook nou nie te styf vas te hou nie … hy moet darem so bietjie vir homself kan dink en so, jy weet?
So het hy mos nou verlede jaar ongemerk 16 jaar oud geword en vir maande voor die tyd kon hy nie uitgepraat raak oor daai motorfietsleerlinglisensie wat hy gaan kry nie. Sy pa het mos meer as ʼn jaar voor die tyd ʼn motorfiets vir ʼn bargain raakgeloop op ʼn veiling en dié het toe mos nou vir amper 18 maande in die motorhuis gestaan. OK, darem ook nou nie net gestaan nie … die mannetjie het homself mos so skelm-skelm deur YouTube video’s geleer motorfiets ry. Hy was so flippen oulik, dat die dag toe hy sy pa gewys het hoe hy ry, sy pa skoon opgewonde geraak het oor sy seun se natuurlike talent vir motorfiets ry! 😉
Intussen is Ma sielsgerus, want dis mos nog maande voor die kind 16 raak … en op ʼn dag toe is die dag op ons!! MAAR gelukkig moes hy eers sy identiteitskaart kry voordat hy vir die leerlinglisensie ʼn afspraak kon maak. So score ek darem toe nog ʼn paar maande grasie. Hoe hou ʼn ma se hart dit!?
Daardie dag, 22 Desember 2017, toe hy sy leerlinglisensie kry toe kon dit nie anders nie, maar ry moes hy ry! Maar die moederhart het eers ʼn paar voorwaardes, waarvan rylesse saam met ʼn expert bo aan die lysie staan. Na net 3 rylesse sê Brent dat Sean gereed is vir die pad. Nou kyk, as daar net ʼn beduidenis is van iets soos brood, melk, you name it, wat kortkom, dan is hy slaggereed om op sy ysterperd te spring OK toe. En daar word die naelstring so stukkie vir stukkie genip met ʼn mes … 🙁
So gebeur daar maar gereeld ietsie wat mens net laat besef, die klein mannetjie het nou ʼn jongman geword. Die nuutste – wat ek nou dink die naelstring behoorlik deurgekloof het – hy het nou sy eie gimnasium lidmaatskap … op sy eie, sonder ma, saam met sy maats. Toe besef ek … nou sal dit makliker gaan om elke keer nog ʼn bietjie skiet te gee, nog ʼn bietjie ruimte te gee.
Moenie fout maak nie, daar is steeds reëls – streng reëls, maar soms kan ʼn mens seker maar ʼn bietjie meer buigsaam wees. Hoe anders gaan hulle verantwoordelikheid aanleer?
Hoe sny jy die naelstring? Klou jy maar nog vas, styf vas? Of laat gaan jy maar so stukkie vir stukkie? Hoe hou ʼn moederhart dit?