Afsaal Kothuis, Trekoskraal

Ek begin tik en ek wonder of kothuis die korrekte Afrikaanse vertaling vir cottage is?

In elk geval, ek het die heerlikste, rustigste naweek aan die Weskus deurgebring by Afsaal Cottage, net langs die Afsaal Padstal in Trekoskraal. Die eerste ding wat my tref toe ek Vrydagaand daar stop was die ongelooflike stilte en spontaan sê ek dankie aan my Skepper vir die voorreg en dat Hy presies voorsien het wat ek nodig gehad het: algehele stilte … daar waar jy die stilte agter die stilte hoor.

Ek het eerstens my hart verloor op die vlakte wat wyd strek. Dis mos my tipe plek en ek besef weereens wat ‘n onreg my ouers my aangedoen het om my op 11-jarige ouderdom uit die Weskus na die Stad te verplant. Per se is ek seker nie noodwendig sielsongelukkig in die Stad nie, maar ek is baie beslis op my sielsgelukkigste wanneer ek my êrens aan die Weskus bevind.

Ek neem my intrek in die kothuis en neem natuurlik eers ‘n video wat ek wyd en syd met my pêlle deel sodat hulle kan sien hoe bevoorreg ek is. Toe ek my motor aflaai, besef ek weereens … ek het nog baie om te leer van ekonomies inpak vir ‘n naweek. Ek is mos ‘n vir-in-geval-pakker … alles wat ek dalk dink ek moontlik gaan nodig hê of voor lus raak word ingepak. Dis nou boeke, boeke, boeke, craft, skriffel goed, laptop, musiek, ens. Anyway, dié skriffel is nie oor my nie, maar oor ‘n ongelooflike plekkie waar ek lekker kon afskakel en rus kry. (Dis iets wat ek elke twee tt drie maande doen … soek rus vir my siel en om my battery te herlaai êrens aan die Weskus.)

Die kamer is beautiful en ek voel sommer dadelik of die matras darem lekker is. Dis een van daardie sagte matrasse en ek voel behoorlik of ek daarin wegsink. Heerlik. Die kothuis is toegerus met twee badkamers.  Ja, twee … een met ‘n stort en die ander een met ‘n heerlike wegsink bad. Raai net watter badkamer het ek gekies?

Daar is twee braai plekke: een binne en een buite. Ek sien nou wraggies nie dat ek vir my alleen gaan vuur aansteek en braai nie. Just too much effort.  En wat ‘n ongelooflike treat was dit nie om genoeg hout, blits en selfs vuurhoutjies daar te vind nie.  Vir ‘n nie-roker is dit natuurlik een van die bedagsaamste dinge wat ek al ooit by ‘n oornag plekkie aangetref het … vuurhoutjies! Ek het wel die Sondag besluit dat een van die braaiplekke ingewy moet word en ek nooi toe ‘n vriend oor om te kom braai en dit het my laaste kuierdag bietjie langer uitgerek.  Nou kyk, as ‘n buddy kan hoender braai, kan hy maar braai, want dis nie enige iemand wat hoender ordentlik kan braai nie. Dit was yummy!

Alta Nel, Foto krediet: Andrew Newby

Die volgende heerlike bederf wag vir my in die yskas:  heerlike vars plaasmelk en kaas wat die gasvrou, Alta Nel, self maak. Te heerlik! Nota aan self:  probeer net volgende keer seker maak jy weet hoe werk die gasstoof.

Lees gerus meer in Andrew Newby se artikel: The West Coast Cheese Renaissance

Aangesien ek 95% van die naweek op my eie was, het ek sommer net lekker maklike kos saamgeneem soos slaaigoed … min moeite veral as mens net vir een persoon kos maak.  Dit was ‘n fees om die mooi eetgerei te gebruik. Die mooiste handgeverfde borde, bakkies en bekers.

Sal ek Afsaal Cottage aanbeveel?  Ja, ja en nogmaals ja!

Het jy ‘n 4×4 nodig? Nee, maar my arme Scarlet-karretjie het nie geweet wat haar getref het op daardie harde sinkplaat pad nie.

Wat is daar om te doen? Net mooi niks anders as stap, rustig wees en kwaliteit-tyd met jouself of jou partner. Of as jy mense ken wat naby is, nooi hulle wanneer jy nie meer lus is vir alleen wees nie. En natuurlik het Paternoster so uitgebrei dat daar ook heelwat plekkies is om te besoek soos verskeie restaurante en natuurlik At se Gallery.

Kan jy alleen gaan? Ja, maar sorg dat jy ten minste ‘n boek of twee het, en dalk ‘n bietjie musiek. En dalk ‘n craft projekkie as jy ‘n kreatiewe siel is.

Nee, ek skilder nie. Ek werk op ‘n kunstenaar se ontwerp en “kleur in” met verf en kwaste

Is dit die ideale romantiese wegbreek plekkie? Ja, maak net seker jy is nog verlief op jou partner anders kan die naweek ‘n anti-klimaks wees, want daar is nie eintlik weg hol plek nie.

Is Afsaal Cottage beskostigbaar? Ja, baie. Hulle tarief is al vir ‘n hele paar jaar dieselfde. Dit is ‘n 4-slaapplek selfsorg eenheid tussen Vredenburg en Paternoster.

Skakel gerus 022 715 3096 of stuur ‘n e-pos na afsaalpadstal@gmail.com om jou plek te bespreek. Jy sal besilis nie spyt wees nie.