Plaaskombuisverlange

deur Nico Moolman 14/02/2005

Ek weet nie wie Nico Moolman is nie, maar ek het die aangehegte gekry by ‘n VLV oggend en die nostalgie loop dik na Mamma se kombuis en heerlike geregte en gebak wat sy kon optower.

Die Murasie staan grafsteen op die Ouplaas se werf.

Klitsgras strooi confetti wat die weeskinders erf.

‘n Dwarrel soek blare, maar dis jare te laat.

Net die aalwyn probeer om te groei sonder maat.

Kom maar in, daar is melktert en boontjiesop.

Bakoond brood met botter en makataan jêm op.

Lemoenstroop vir die kinders,

Vir die oues gemmerbier.

Kom nader kombuis toe, die stoof het nog vuur.

Uit die stiltes van skadu’s fluister perskekonfyt.

Koue koffieverlange onthou droë beskuit.

‘n Bondeltjie waaigras verdwaal waar dit lê

Dis so al of die noodlot dit onhoorbaar wil sê:

Kom maar in, daar is soesies,

Sjoe-sjoes met stroop.

Sjoklit koek met icing wat jy nêrens kan koop,

Varsgebrande koffie, souskluitjies met kaneel.

Roly-poly poeding en skuimpies te deel.

Hoe lank gelede is vaag en irrelevant.

Wat tel is die era van my grootjie genant.

Ou albums, stories, briewe van my ma.

Die antwoorde raai ek, al is daar nog vrae.

Kom maar in, stap deur kombuis toe,

Daar is heelwat te proe.

Kom binne, jy’s nog welkom hier.

Kom nader, kombuis toe, die stoof het nog vuur!!

Foto: Appel en murgpampoenkonfyt – interessante kombinasie wat heerlik proe

Foto krediet: Surene Esterhuizen