deur Annette Havenga en Surene Esterhuizen
Vrydag 17 Januarie 2020 het ongeveer 3000 mense met groot opgewondenheid aan boord die MSC Orchestra gegaan. Die doel was die oop see, vet pret, vertonings met die room van Suid-Afrikaanse sangers en voet aan wal in Walvisbaai. Teen middernag was die skip steeds in die hawe met die hoop dat die weer hulle binnekort sou toelaat om die vaart te begin en teen volspoed die spreekwoordelike pad te vat. Intussen het die verrigtinge op die skip voort normaal voortgegaan.
Teen Dag 3 was daar steeds geen keer aan die bekende Kaapse Dokter nie en was dit duidelik dat die vaart na Walvisbaai nie meer gaan gebeur nie. Dit het egter nie die gees onder die meeste van die passasiers gedemp nie.
Jacques en Lizette Groenewald, was van die mense op die skip met ’n positiewe uitkyk op die ervaring. “Klagtes was daar wel.” sê Jacques. “… maar die weer op die skip is lekker en die mense kuier ’n hond uit ’n bos!” Lizette se foto’s het duidelik gewys dat die meeste mense hulle uitkyk deel en verkies om die beste van ‘n slegte saak te maak en die wegbreek te geniet.
Belinda Botha: “Dit was ‘n bietjie van ‘n teleurstelling vir ons dogter, want hulle sou ‘n bier-proe bywoon in Walvisbaai, maar hulle het darem hulle geld teruggekry. Andersins was daar geen verskil nie. Al die aktiwiteite en shows het aangegaan soos normaal. Jy sou nie eens agterkom of jy op die see of in die hawe is nie tensy jy op dek gegaan het nie. My seun, sy vrou en hulle vriende het tot in die oggendure saam met die kunstenaars gekuier. Ons sal dit beslis weer doen.”
Die Smitte sê hulle het ‘n wonderlike tyd gehad en dit het hulle glad nie gepla dat hulle net ‘n trip to nowhere gehad het nie. Wat dit ekstra lekker gemaak het was dat Sussie se broers ook aan boord was en almal het dus lekker gekuier. Sussie en Gerrit het al ‘n paar cruises gedoen, plaaslik en oorsee.
Anita Huisamen sê: “Ons het die boot vreeslik geniet. Dit het geen verskil gemaak dat ons nie Walvis toe kon gaan nie. Ons het al die voordele gehad op die boot en nog meer. Bok Radio het uit hulle pad gegaan om dit aangenaam vir almal te maak deur sover moontlik probleme op te los en meer shows te reël. Die diens was goed en vriendelik. As ons nie reeds ander planne gehad het nie, sou ons weer Desember 2020 gegaan het.”
Yvonne Swanepoel sê: “Dit was nie eintlik vir ons ‘n probleem nie. Ons was steeds live and jive op die dek. Ons was ‘n lekker klomp bymekaar wat mekaar geken het en het alles enjoy. En om net op die boot te kon wees, was great … ons het ons dood gevreet!! Ons het ‘n ent uitgevaar en dit was heerlik al het ons nie Walvisbaai gesien nie. Dit was baie, baie, baie lekker en ek sal weer gaan.”
Ek (Surene) wil net sê: Yvonne is op my familie WhatsApp-groepie en sy het aanmekaar boodskappe gestuur oor hoe fantasties dit was. Ek dink sy kan ook nie wag vir haar volgende cruise nie.
Daar was natuurlik jou smartvrate ook – niemand wat ons twee ken nie, en ons gaan hulle ook nie hier entertain nie! Mense wat net kla van die woord GO af, mense wat dink dat die organiseerders of MSC kies of beheer die weer! Mense wat reken hulle moet vir die hele trip ‘n terugbetaling kry … Hallo! Julle het al die lekker kos en entertainment geniet! Surene was genoodsaak om iemand op die groep te herinner dat slegs God in beheer is, geen mens beheer of kies die weer nie!!
Die Groenewald’s het so pas hulle derde vaart onder die vleuel van hierdie spesifieke organiseerders agter die rug. Dit was uiteraard ‘n teleurstelling dat hulle nie die volle vaart kon maak nie, maar het steeds elke oomblik daarvan ten volle benut. Hulle is dit ook eens dat die organiseerders uit hulle pad gegaan het om almal gelukkig te hou en het ekstra moeite gedoen. Daar is selfs sprake van ’n klein vergoeding, maar Jacques voel dit is onnodig aangesien alle verrigtinge en vertonings soos normaal voortgegaan het.
“Ons woon in Kaapstad, vier seisoene in een dag is nie vreemd nie. Ek wonder wie sou bly as daar vooraf die keuse was dat die skip nie sal kan vaar as gevolg van die weer nie?” -Jacques-
Maandag 20 Januarie kon die MSC Orchestra uiteindelik die hawe verlaat en het tot by Elandsbaai gevaar om betyds terug te keer op Dinsdag 21 Januarie sodat die res van die geskeduleerde bootvaarte kon voortgaan. Alhoewel die skip dalk bespaar het op brandstof onkostes, was daar steeds die “docking fees” om in ag te neem. Ons het ook gehoor dat die loodsbote wat die MSC Orchestra onder beheer moes hou, ook ‘n spul geld kos per dag. Ons is nie bekend met daardie syfers nie, maar gesonde verstand sê dat ‘n skip van daardie grootte ’n astronomiese bedrag sal betaal.
Nou wonder ons of die swartgalliges ook sou kla indien die skip as gevolg van ongure weer nie die hawe kon binnekom nie en hulle twee dae ekstra op die skip moes wees? Wie sou hulle blameer as hulle wel uitgevaar het en op diepsee in die moeilikheid beland het? Ons het besluit … mense bly maar ‘n aardige spesie: sal altyd iets vind om oor te kla.
En ons twee: ons het al elkeen ‘n bootvaart agter die rug: en ons kan nie wag vir die volgende een nie!
Sailing groete.
Annette & Surene