Waar begin mens met ‘n biografie? Seker nie by die geboorte nie – anders skryf ek ‘n boek!! Ek is gebore in Bellville, grootgeword en getoë in die Noordelike voorstede. Was nog altyd ‘n dromer en ‘n drama queen en wou baie graag ‘n filmster geword het soos wat ek in Std. 2 aan die proef onnie vertel het.

Nou ja, hier sit ek – nog nie ‘n filmster nie, maar was darem al een of twee keer op die kassie. As ek terugblik na my hoërskooljare onthou ek hoe ek dit geniet het om opstelle te skryf en sommer party van die ander in die klas se opstelle vir hulle deurgegaan vir foute.
Ek het nog altyd ‘n voorliefde vir drama gehad en het op skool deelgeneem aan Eisteddfod en konserte. Later het ek die geleentheid gekry om by my oudste seun se skool Eisteddfod af te rig en het dit vreeslik geniet. Die kinders het natuurlik gedink hierdie tannie is mal as ek so dramaties raak en partykeer kon ek die uitdrukkings op hulle gesiggies so geniet. Hoe minder drama, hoe minder punte!
Ek het al lank terug in die lewe geleer om op my eie twee voete te staan en dikwels as jy ‘n ding gedoen wil hê dan moet jy dit self doen. Ek is die ma van twee pragtige jongmanne wat ek, let wel, nie opgepiep het nie. Miskien bietjie bederf ja, maar val moes hulle val en mamma was maar altyd daar in die hospitaal met elke gebeurtenis. Ons drie was maar pretty much left to our own devices en moes met die stampe en die stote in die lewe leer cope. Ek glo altyd wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. My seuns is tans oorsee en ek sit dus met ‘n leë nes en drie langhaar vierbenige meisiekinders wat my nou eers besig hou.
As daar nou en ding is wat nie twee is nie is dit dat ‘n hond jou onvoorwaardelik liefhet, die soort liefde wat skaars is. My lewe is nie meer myne nie en uitgaan word tot ‘n minimum beperk tensy hulle kan saamgaan. Ja, ek weet dit klink meer of ek die probleem is, maar siestog ek voel jammer om hulle alleen tuis te los. Wanneer ek jammer kry doen ek als moontlik om te help en dinge makliker te maak.
My radio loopbaan het afgeskop toe ek by Radio Weskus 92.3fm betrokke was. Hierdie was mal tye en ek en ‘n vriendin was die radio persoonlikhede bekend as die “Girls on Fire“. Ek het dit vreeslik geniet en het na ‘n jaar by internet radio werk betrokke geraak.
Vir vyf jaar probeer ek al die volk vermaak, maar voel dis nie waarheen die Here my lei nie. So deur die jare leer mens baie van jouself met elke stamp en so lief soos ek vir mense is, het ek partykeer daardie me time nodig, net om hierdie besige koppie te liasseer.
Ek is bevoorreg om ‘n man te hê wat mooi na my kyk, dus het ek baie vrye tyd om te benut en sien dit as ‘n groot voorreg om by die saamskryf geleentheid betrokke te wees.

Ek is besig om aan nog ‘n boek te werk en met die wonderlike inspirasie van ‘n goeie vriendin wat my elke dag moed inpraat, het ek besef dat skryf dalk dieper in my hart lê as wat ek besef het.
Op my ouderdom het ek besef dat ek so bietjie sukkel met ADD en fokus is maar ‘n skaars woord in my dagboek. Ek werk daaraan en als vat my ekstra langer om te voltooi, want ek pik orals soos ‘n hoender in plaas van om te fokus op die doel voor oë. Maar ek is besig om myself te herstruktureer. Dit neem tyd, dissipline en geduld. So agteros kom ook in die kraal!!