Ons stel bekend … skrywer Aretha

Hoewel Aretha du Rand groot geword het in die noorde van die land, het sy haar hart in die Bolandse berge verloor nog voor sy haar verstand kon kry.  

Haar studies en loopbaan het Kaapse draaie met haar geloop. Met ʼn meestersgraad in letterkunde, het sy uiteindelik in die korporatiewe wêreld beland waar sy vir baie jare ʼn bestuurskonsultant was in een van die Top 4 professionele dienste-firmas in die wêreld.

Skaars ses dae na haar vyftigste verjaarsdag het sy opgestaan in ʼn vergadering en gesê: This is it. ʼn Mallemeule van reis en ervaar en beleef en stilraak het in rat geskop en na ses jaar van sigeunerlewe het sy besluit om in ʼn vallei omring deur die Bolandse berge te kom wortel skiet.

Woorde was nog altyd deel van haar lewe: luister, skryf, praat, lees, woorde en nogmaals woorde. Sy het twee liefdesverhale gepubliseer asook ʼn aantal kortverhale in tydskrifte. Haar deelname aan die Skryfnaweek is demonstratief van haar leuse vir die tweede helfte van haar lewe:  “Gooi oop daai waenhuisdeure en nooi die lewe binne”.