Ons stel bekend … skrywer Susan

Ek is Susan Olivier en het grootgeword op Boksburg, en het die ideale kinderjare gehad, want ek kon onophoudelik lees. Elke week kon ek die stadsbiblioteek besoek. Daar het my droom begin  om ook ‘n skrywer te word.

Ek het op 16 jarige ouderdom ‘n tikmasjien gekry, en geglo dis al wat ek nodig het om te begin. Helaas het ek toe nooit verder gevorder as die eerste paar hoofstukke nie.

Ek het gaan studeer, my Honneurs in Inligitingkunde behaal, en my droom werk by Aeci  in Modderfontein gekry, by hulle spesiale biblioteek. Toe ek trou, skuif ek na ‘n pos in Pretoria, by ‘n regsfirma se biblioteek, waar ek steeds werk.

Meer as ‘n dekade gelede het ek ‘n skryfskool in Potch gaan bywoon, en dis hoe my droom toe realiseer. Ek het al 14 titels by vir Lapa gepubliseer.  Dis my stokperdjie, want ek  werk nog voltyds. Met my twee kinders wat albei uit die huis is, is daar gelukkig meer tyd vir skryf.

Ek kom dus al die pad van Pretoria om die naweek by te woon. My vriendin, Aretha, het my aangemoedig om saam met haar in te skryf. Nou maak ek dit ‘n kuier- en skryf naweek.