Ons stel bekend … projek koördineerder, Surene

Aangename kennis, ek is Surene Esterhuizen, projek koördineerder vir ons saamskryf-boek en ook ’n aktiewe leser, blogger, rusbankreisiger, en crafter!  Ek lees bykans enige iets van kinderboeke tot niefiksie, maar ek sit maklik ʼn vervelige boek neer. Tyd is te kosbaar om te mors.  Ek het vir jare gedroom oor my eie blog terwyl ek geen idee gehad het waaroor ek werklik wou skryf nie. Uiteindelik het Woordkuns / Word Art gerealiseer met my en Annette Havenga as bloggers en ons skryf oor alles en nog wat.

Ek werk al sedert 1989 in finansiële afdelings in verskillende bedrywe: van bemarking, tydskrifte, uitgewers, motorbedryf, landbou, klere, sekuriteit, ingenieurs, opleiding, versekering en die laaste vier jaar in die konstruksie bedryf. 

Ek het selfs al in ʼn oomblik van desperaatheid om inkomste tuis te genereer hof tikwerk gedoen. Dis baie alleen … jy werk met oorfone en al wat jy hoor is hierdie stem in jou ore wat jy op papier moet [probeer] vaslê. Dis vreeslik interessant, maar depressing. Noudat ek daaraan dink … die hof tikwerk het my en Annette bymekaar gebring.

Ek is al sedert 2010 ʼn vryskut in die uitgewersbedryf en geniet elke oomblik daarvan.  Ek is betrokke by e-publikasies, asook oudio boeke. Ek het ook begin met ’n kursus om (hopelik) eendag ’n artikelskrywer te word. Ek wil bitter graag skryf – en my eerste gepubliseerde skriffel in ’n boek met ’n prys-etiket op ’n boekwinkelrak het verskyn in #EKOOK saam met Susan Coetzer en 70 ander dames.

9 Maart 2018 by Gino’s, Stellenbosch, saam met twee mooi manne, skrywer Marion Erskine en my handsome seun Sean Lee.


Hierdie saamskryf-projek is gebore tydens ’n radio onderhoud op Jou Stasie. Annette het my genooi om te gesels oor my ervaring met #EKOOK. Voor ek mooi weet wat aangaan, het Annette ons naweekbespreking gedoen by Canetsfontein – selfs voordat daar nog enige skrywers opge”line” was. Ek geniet die interaksie tussen die span skrywers en ek sien uit na die eindresultate van hierdie boek en kan ook nie wag om dit met julle – ons lesers – te deel nie.