Om mee te begin is ek seker ʼn hele paar mense in die literêre wêreld, sowel as die kunste sal my wil stenig oor dié opskrif! 😊 Maar dit sê dalk eerder iets van my die skrywer: ek is net ʼn plain Jane met ʼn oog vir die mooie, hetsy dit woorde of prentjies is! Maar Annari se skilderye val in ʼn klas van hul eie – formidabel! 😀
Ek het Annari van der Merwe ʼn hele klompie jare gelede ontmoet toe sy nog die stigter-uitgewer by Kwela Boeke was. Ek was ʼn groentjie by die finansiële afdeling en ek het soms direk met die uitgewers geskakel om admin kwessies uit te sorteer. Die vreesaanjaendste ding wat enige iemand my kon vra was om na Annari te gaan met ʼn navraag. Sy het jou so oor haar bril beloer met ʼn “waddehel-wil-jy-hê”-kyk wat jou tot in jou skoene laat sidder het, te bang om enige iets te vra. Tot ek eendag ʼn kykie kon kry agter Annari se sagte hart – ʼn hart vir die ontwikkeling van mense / skrywers wat andersins nooit die geleentheid sou kry of dit dalk nie so góú sou kry nie. 😊
Intussen is Facebook darem maar ʼn wonderlike medium, want so bly mens by met wat ander mense doen met wie jy nie meer so gereeld in kontak is nie. En ek ontdek hier in November 2018 vir Annari, die skilder. Annari, die boek-mens, het my alreeds fassineer en toe maak die skilder my nuuskierig en ek besluit om haar rondleiding by Cape Gallery mee te maak en wat ʼn wêreld maak vir my oop!
Ek het natuurlik die galery se webtuiste besoek en so bietjie geloer na die skilderye en ook die Litnet artikel gelees en die kombinasie van verskillende elemente het my goed nuuskierig gemaak.

Annari het dit mooi vir ons verduidelik tydens die rondleiding: Sy het ʼn paar jaar gelede onder leiding van Greg Kerr, van Port Elizabeth, begin skilder en tydens een van sy werkswinkels moes hulle ’n argitektoniese agtergrond met ’n element uit ’n ander kunstenaar se werk, tesame met ’n eie persoonlike element kombineer. En hierdie 12 ongelooflike skilderye is die resultaat van hierdie opdrag.
Moet ook nie dink dat hierdie skilderye sommer oornag gebeur het nie. Net om ʼn voorbeeld te noem: die skildery Watching and waiting se tekening het tydgewys ongeveer ʼn week geduur. En nou ook nie ʼn week aaneen nie, want dit is ʼn uitputtende proses. Wat verder die tyd baie uitrek tydens die ontwikkeling van ʼn skildery is die voorbereiding van die skilderdoek, asook die wagtyd tussen verflae wat moet droog raak.
Dus, moet nooit na ʼn skildery se prys kyk en dink skilders raak ryk daaruit nie … as jy wil slim wees en ʼn fooi per uur bereken, dink ek daai sommetjie gaan sommer vinnige ʼn negatiewe syfer wees. En dan wil ek byvoeg dat ek laasgenoemde opmerking insluit suiwer uit die oogpunt dat ek besef het dat elke Jan, Klaas en sy maat beslis nie sommer op ʼn dag kan opstaan en besluit nou is hy ʼn skilder nie! 😀

Om terug te kom na die elemente van haar skilderye: die argitektoniese element het sy verkry uit haar foto’s wat sy geneem het tydens haar verskeie reise, waar bekende galerye altyd eerste op haar lys van besienswaardighede was. Ek kan dink dat dit ʼn baie moeilike proses was om die regte plekke te kies vir elke skildery. Die kies van die elemente uit ander kunstenaars se werke het dalk nie altyd so maklik gekom nie, want sy moes dit inpas in die argitektoniese agtergrond en soms was ʼn deur of venster wyer gemaak om die Ou Meesters se prentjies te maak pas. En dan natuurlik die persoonlike element wat sy bygevoeg het: haar geliefde kat, wat blyk om ʼn groot liefde te hê vir die kamera. Wagters op die mure is die enigste skildery waarvan die argitekoniese agtergrond eg Suid-Afrikaans is.

Watching and Waiting is die skildery met die baie tekenwerk wat so lank geneem het, want daar is ʼn wiskundige berekening daaragter om die agtergrond se diepte korrek te doen. Dis dalk waarom ek maar net inkleur! 😊
Ek het so tydens die rondleiding ʼn paar vrae aan Annari gevra waarvan baie van daardie antwoorde reeds bo genoem is, maar wat my natuurlik die nuuskierigste gemaak het, was of sy altyd goed kon teken. Annari se antwoord hierop was dat sy altyd ʼn liefde vir kuns gehad het en soms geteken het wanneer die kans daar was, maar dat sy eers voluit begin skilder het nadat sy ophou werk het as uitgewer. Sy noem ook dat mens maar eintlik werklik net op een passie voluit kan fokus. Nou ja, nou is dit kuns se beurt.

Regs is Annari by Looking Back – beslis my gunsteling skildery. Looking Back was die laaste een van die 12 wat sy geskilder het.
Annari werk alreeds aan haar volgende reeks skilderye: Elegie vir die Karoo en ek is beslis nuuskierig om hulle te sien, aangesien sy ons alreeds so ʼn klein bietjie vertel het van die tegnieke wat sy tans met dit toe pas. Hier is solank ʼn voorsmakie . Can’t wait to see the rest!
My grand tour is tot 24 November by Cape Gallery in Kaapstad te sien.