Boeke-klets: Vrydagaand

Sjoe! Waar begin ek? Eerstens, was dit heerlik om sewe van die sewe-en-twintig skrywers van Vrydagaand te ontmoet by Durbanville Biblioteek. Ek het natuurlik toe ek tuiskom besluit om eers die sewe skrywers se stories te lees voordat ek begin skryf oor vanaand. Dit is een en almal ongelooflike stories en daar is nog twintig oor om te lees! Dit is een van daardie boeke wat jy weer en weer sal lees!

Ek het al iets van die meeste van die skrywers gelees, maar dit was lekker om te hoor hoe elkeen ietsie vertel van waar háár storie vandaan kom.  Almal is dit eens: elke storie begin met of het ‘n tikkie waarheid in, en dan lieg hulle heerlik verder om die storie te plooi soos hulle dit graag sou wou hê!

Juantia Aggenbach

Die eerste verhaal in Vrydagaand is Die antwoord deur Juanita Aggenbach. Sy skryf gewoonlik meer tematiese boeke en het al spesifiek een oor aanneming geskryf. Sy geniet egter die skryf van kortverhale. Juanita het ‘n indrukwekkende CV met ‘n paar Honneurs grade in Sielkunde en ook een in Kriminologie.

Malene Breytebach

Dr Malene Breytenbach het net so ‘n indrukwekkende CV en ek kon beswaarlik by bly met notas neem. Sy het al meer as 50 titels die lig laat sien. Sy skryf deesdae voltyds en haar kortverhaal Vat so, Katvis is baie eietyds omdat katvissing iets is wat deesdae al hoe meer gebeur oor verskeie sosiale media netwerke vanaf Facebook, speletjie toeps en selfs afspraak webtuistes. Ek self het al ‘n keer of wat met so iemand te doen gehad en daaroor geskryf op my blog. Vat so, Katvis speel af in Rusland. Buiten al Malene se prestasies is sy ook ‘n berese vrou.

Alta Cloete

Alta Cloete is ook ‘n bekende naam onder Romanza-lesers. Sy het ‘n graad in Biblioteekkunde, asook ‘n HOD in Pre-primêre onderwys. Haar skryfloopbaan het begin met die skryf van kortverhale waarvan meer as 50 reeds in verskeie tydskrifte en boeke verskyn het. Sy het al meer as 30 romanses geskryf. Kortverhale bekoor haar omdat elke woord tel. Dinge kan vinniger gebeur en dit werk vir haar met haar kort aandagspan. (Dit klink beslis na ‘n beter opsie vir my kort aandagspan ook – die skryf van kortverhale.)  Ons almal sal ons kan vereenselwig met haar kortverhaal, Skelm-stapper. Dit speel af gedurende die beginstadium van inperking en ek seker daarvan die naam sê alles, want ons almal het begeer om net soms by die huis uit te kom – veral dié mense wat alleen was tydens inperking.

Trisa Hugo

Trisa Hugo is ‘n gastehuis-eienaar en ‘n hipno-terapeut. Sy bedryf ook die Boekemakranka Facebook blad en daar is gedurende inperkings tyd heelwat boek gesprekke gedoen. Sy sê sy skryf moeilik oor die liefde, maar makliker oor moeilikheid. Sy kry drome en visioene en skryf graag daaroor.  Haar verhaal, Die erfgenaam, handel oor ‘n droom wat sy oor ‘n lang tydperk gereeld gekry het. Totdat sy en haar man eendag deur Swellendam ry en sy die huis sien waarvan sy gedroom het. Hulle kon met iemand oor die huis en sy geskiedenis gesels en so is Die erfgenaam gebore en nadat sy by die huis was, het die drome oor die huis ook opgehou. ‘n Fassinerende storie!

Felicia Snyman

Felicia Snyman het ‘n LLB-graad, asook ‘n M-graad in Handelsreg. Sy is ook ‘n Ondernemingsreddings-konsultant! Balansstaat van die liefde is haar en haar man se liefdesverhaal.  Die kortverhaal was vir haar moeilik, want soos sy sê in haar beroep hou hulle van dinge lank uitrek. Sy moes dus heelwat sny aan haar verhaal om dit ingepas te kry vir ‘n kortverhaal. Ek dink sy het haar goed van haar taak gekwyt deur dit wat sy vertel in Balansstaat van die liefde. ‘n Mens kry nie die gevoel dat daar iets uitgelaat is nie.  Ek sien beslis uit daarna om meer van Felicia se skryfwerk te lees in die toekoms.

Nanette van Rooyen

Nanette van Rooyen is ‘n bekende naam in skryf-kringe en ek moet bieg dat ek bitter min van haar werk gelees het, maar dat ek beslis gaan probeer om my kloutjies om meer van haar boeke te lê. Sy het al verskeie pryse gewen. Vrydagaand is haar verhaal en ook die titel van die kortverhaal boek. Ek het nog gewik en weeg of ek nou kon bekostig om oor my begroting te gaan, maar toe Nanette ‘n deel voorlees uit Vrydagaand, toe is ek hoek, lyn en sinker gevang! Sy begin met ‘n paar rafels in die realiteit en lieg dan lekker verder. Die karakters in Vrydagaand is werklike mense wie se lewens sy net so ‘n bietjie ingekleur het. Ek dink ek sal daarvan hou om elke Vrydagaand so ‘n afspraak te hê soos Mr Saker en die Switserse Elke – en néé, soos Nannette sê: hulle is te oud vir súlke dinge!

Elsa Winckler

Laaste maar nie die minste nie, is die verhaal van Elsa Winckler, Melinda se mooi rok. Soos altyd is Elsa se verhaal vir my WOW! Ek hou veral van die feit dat die heldin nie ‘n dametjie is nie, maar ‘n regte rabbedoe. Ek wens ook regtig dat alle mense hulle deel kon ontmoet en net wéét: hy/sy is my ander helfte. 

Elsa is ook die samesteller van hierdie bundel en ek dink daar is hopeloos te min kortverhaal-bundels in omloop. Dit is ideaal vir dié wie graag wil lees, maar nie noodwendig elke aand lees nie en dus nooit genoeg tyd het om ‘n volle romanse klaar te lees nie. Uitgewers behoort regtig daarna te kyk om meer kortverhaalbundels te publiseer, veral ook omdat baie tydskrifte gesneuwel het as gevolg van Covid en daar dus minder platforms is waar beginners hulle kortverhale gepubliseer kan kry.

In ‘n neutedop, KOOP VRYDAGAAND en geniet elke oomblik van leesgenot! Kontak jou naaste boekwinkel en indien hulle dit nie op die rak het nie, vra hulle om dit vir jou te bestel.

UITGEWER: Protea Boekhuis ISBN: 978-1-4853-1358-8 (gedrukte boek) ISBN: 978-1-4853-1359-5 (e-boek)