deur Surene Esterhuizen
Diepe waters – ʼn outobiografie deur Pierre Fourie
Dit was ʼn antiklimaks toe ek om blaai en sien daar is net ʼn klein stukkie op die volgende bladsy getik en dat die opskrif op die ander bladsy Slotwoord lees.
Dit is nie ʼn outobiografie soos ons dit gewoond is nie … dis nie heeltemal kronologies nie, maar mens kan die verloop van Pierre se lewe tog goed volg. Sou jy egter later wil teruggaan om iets spesifieks te soek, kan jy maklik in die Inhoudsopgawe die hoofstuk gaan opsoek wat handel oor depressie, rou, vergifnis en so meer.
Die boek is in ʼn maklike trant geskryf, omdat ek Pierre ‘ken’ hoor ek sy stem terwyl ek lees. Hoekom ‘ken’? Want wie van ons ken werklik almal wat ons ken se diepste alles? Wat ek ook van hou is dat hy aan die einde van die meeste hoofstukke sy oplossing aan die hand van vrae deel, bv Hoe het ek depressie ervaar? Of Hoe het ek uit depressie gekom? Op meer as een plek sê hy duidelik dat wat hy skryf uit sy eie oogpunt en ervaring is.
Omdat ek deur die jare as vryskut by uitgewers gewerk het, is ek ‘n baie kritiese leser en aan hierdie boek sou ek beslis niks verander het nie. Ek wag vir jou volgende boek, Pierre.
Dink ek jy behoort die boek te koop? Ja!!
Dink ek jy behoort die boek te lees? Ja!!
As jy daarvoor geld uitgehaal en betaal het, asseblief … doen jouself die guns van jou lewe en lees dit! Pierre se verhaal is eie aan hom. Dis nie noodwendig presies soos jou storie nie, maar baie mense sal met iets in sy verhaal kan identifiseer. Ek weet ek het op meer as een gedeelte, maar veral oor die deel waar sy ma oorlede is. Ek was in sy skoene met daai een.
Koop vir jou een en geniet hom! Myne is al klaar deurgelees, maar dis ʼn boek wat ek weer en weer sal kan lees.
Kliek hier vir meer inligting: https://www.audienceofonemedia.co.za/pierre-fourie
Of bestel jou kopie direk by Pierre: +27 76 309 2174

