deur Surene Esterhuizen
Dis Lentedag 2020 en dag 159 van inperking. Ons beleef ʼn hele paar bitterkoue dae en dit voel glad nie of lente in die lug is nie, maar waar ek nou hier om 6:45am in my studeerkamer sit en tik, hoor ek die voëltjies tjirp in die bome. En so kondig God vir ons die lente aan deur die natuur!
Vanoggend voor werk gaan ek gou kyk of my naaste winkel dalk ʼn bos sonneblomme vir my het. Vandag gaan ek my kantoor op helder met heldergeel sonneblomme en die lente ingaan met ʼn huppel in my stap.

Hoe begin my Lentedag? Ek is in my studeerkamer besig om gou iets op die rekenaar te doen en my oog vang ʼn boek wat bo-op in ʼn boks lê. 20 Shades of White en ander gedagtes uit Vader se hart, geskryf deur een van my gunsteling-mense, Elze Radyn. Ek het ʼn werkie om te doen, maar ek begin lees weer by hoofstuk 1: Ons almal het ʼn storie … ek deel graag ʼn stukkie daaruit vanoggend.
“Ons almal het ʼn storie en elkeen s’n is uniek. Vir jare het ek geglo my storie is vervelig, vaal, oninteressant. Ek het geglo ek het nie regtig iets om te vertel nie, dat niemand sal luister wanneer hulle dit hoor nie. Tot op ʼn dag – ek het besef dat baie ander vroue (en sekerlik mans) presies soos ek dink. En ek is verkeerd! In ons gewone stories lê ons eenheid. Dis nodig dat elkeen se storie vertel word om ander te bemoedig, te inspireer en hulle te verseker haar storie is nie té vaal om iemand te raak en vir iemand iets te beteken nie. Nie almal het ʼn dramatiese storie van mishandeling, molestering, verslawing, verskriklike lyding en onreg nie. Beteken dit daarom dat jy niks het om te sê nie? Nee, verseker nie! Ons vervelige vaal sussies (en natuurlik boetas) het stories van onverdiende genade, en jy moet jou storie vertel.”
Begin 2020 se lente deur jou storie van onverdiende genade met elkeen daar buite te deel. Jou storie van God se genade in jou lewe is dalk net die deur na God wat vir iemand anders moet oopgaan. Dalk maak jou storie vandag die deur na God vir jouself weer oop, omdat jy deur al die dinge wat gebeur het in jou lewe, dalk ‘n bietjie skaam gekry het en soos Adam en Eva van ouds vir Hom wegkruip. Ek het nuus vir jou: jy kan nie vir God wegkruip nie. Hy weet alles en Hy sien alles.
God is in elke dag, in elke detail. Daai voëltjies wat daarbuite tjirp, klein goggatjie of daardie grote olifant, is elkeen deur God geskep tot op die laaste vlerkie, dop of haartjie. Jý is in detail deur ons Vader geskep. Hy is altyd lief vir ons. Dis ons eie keuses wat maak dat ons soms ongeliefd voel.
Gaan Lentedag van 2020 in met ʼn huppel in jou stap en wéét dat God altyd daar is: in jou winters, herfs, lentes en somers. Laat jou lente vandag begin: die eerste stappie na ʼn nuwe lewe.