Liefste Mamma!

deur Surene Esterhuizen

Hoe mis ek jou vanoggend! Hoe mis ek dat ek jou net ‘n drukkie kon gee! Hoe mis ek dit om vir jou te sê ek is lief vir jou en die liefde vir my in jou oë kon sien weerkaats. Hoe mis ek die voorreg dat ek elke dag met jou kon praat ~ sommer ‘n klomp kere: net oor ek kon! Hoe mis ek dit dat jy nie die kans sou hê om ‘n Ouma te wees vir die kleinseun wat jy so lank begeer het nie! En Moeksie, hy is Albert se ewebeeld! Kyk, dis bewys dat bloed kruip waar dit nie loop nie, want ek en Albert het slegs een biologiese ouer se gene gedeel en steeds is my seun sy ewebeeld.

Hoe mis ek jou, mamma, wat altyd trots was op alles wat ek gedoen het: failures EN suksesse!! Hoe mis ek jou … sommer net … oor jy vir ons die liefste was in die hele wye wêreld!

En vandag is ek self ‘n Mamma ~ en ek verstaan hoe jy vir ons die liefste kon wees in die hele wye wêreld! Wanneer jou kind eers daar is, is daar niks anders wat jou kan laat besef presies hoe groot God se genade is nie! No matter what!!!

Dankie, Here, vir die voorreg wat ek gehad het om my Moeksie vir 29 jaar te kon hê as MY Mamma! En dan, Vader-Heer, wil ek net vandag vra … daardie kinders wat hulle Ouers die voorreg ontneem om deel van hulle en hul kinders se lewens te wees … Here, mag hulle wakker skrik voordat dit te laat is. Here, mag daar vandag ouers wees wat onverwags oproepe van hulle kinders en kleinkinders sal ontvang, Here, sodat daar weer ‘n lig van liefde in hulle oë kan skyn. U weet, Here, wie hierdie mensies is wat vandag of alleen in hulle eie huise moet sit of in ‘n outehuis kamertjie! Laat hulle wense en drome vandag ook waar word ~ net daardie bietjie erkenning weer te kry van hulle kinders vir dit wat hulle jare en jare opgeoffer het vir hulle kinders. En Here, laat daar ook vandag mensies wees wat sal wakker skrik en sal besef, Here, dat hulle skoonma’s ook ‘n behoefte het daaraan om erkenning as Moeder van iemand se man, sal erkenning kry as die Ouma van ‘n kleinkind wat hulle amper glad nie sien nie en daarom ook amper nie ken nie. Here, dat daar mensies sal wees wat kan besef dat dit amper ‘n sonde is om nie die erkenning te gee aan skoonma’s wat dit regtig-egtig verdien nie. Hulle is ook maar net mammas wat liefde nodig het. AMEN!