deur Surene Esterhuizen

Foto krediet: Netwerk24 
Foto krediet: Netwerk24
So ‘n week of wat gelede sien ek op Facebook dat Ilza Roggeband besig is om ‘n Afrikaanse sepie uit die 90’s – Sonkring – te kyk. Ek soek en ek vind dit en ‘n hele paar ander Afrikaanse flieks en sepies.
Vir ‘n hele week lank kyk ek elke aand ‘n paar episodes en dit tref my: as jy iemand wou bel het jy ‘n keuse gehad om die persoon by die werk of huis te bel, en miskien dalk ook by sy of haar ouerhuis. As daar nie antwoord was nie, moes jy eenvoudig bel tot jy antwoord kry. Soms moes jy ‘n boodskap los … wat daardie persoon eers sou kry wanneer hy of sy die persoon sien by wie die boodskap gelos is. Dis ‘n vreemde konsep vandag met die dat almal op selfone beskikbaar is. Ons jeug sou dit beslis nie oorleef het nie.
Die ander baie opvallende ding van die flieks en sepies van so 30 jaar gelede is die goeie taalgebruik. Jy hoor woorde wat daardie tyd gereeld in alledaagse gesprekke gebruik is, maar vandag sal die jongmense [dalk] ‘n woordeboek gaan uitpluk om die betekenis na te slaan. Dis net dié wat nuuskierig genoeg sou wees om wel hulle kennis te verbreed.
Die meeste mense het met publieke vervoer werk toe gegaan, want dit was nie bekostigbaar om met jou motor werk toe te ry nie – al het brandstof toe seker rondom ‘n rand per liter gekos. Those were the days!!!
Ek onthou toe ek my eerste motortjie gekoop het in 1995, was brandstof R1.64 per liter! Dit het my R82 gekos om my rooi Golfie se tenk vol te maak. 😉 Nou kan ek nie eens 50km ry met R82 se brandstof nie.
Ek het Sonkring weer baie geniet. Nou gaan ek nog ou Afrikaanse flieks en sepies soek om weer te kyk. Dis dalk nie so ‘n goeie idee nie … ek het baie ander dinge om te doen: agterstallige lees- en skryfwerk!!!
MAAR – Waarna sou jy graag weer wou kyk?