Gedurende die laaste paar dae het daar op verskeie plekke op Facebook en ander sosiale media platforms gesprekke plaasgevind rondom tuisonderrig.
Sedert my seun in laerskool was, was daar verskeie mense van wie ek gehoor het wat hulle kinders tuisonderrig het. Op laerskool is dit seker makliker om dit te doen as op hoërskool, maar ek het nog nooit daarvoor kans gesien nie. Ek reken ek sou dit kon doen, maar geduld het ek beslis nie genoeg van om dit selfs te probeer nie.
Later het ek gehoor van heelwat hoërskool leerders wat dieselfde roete volg, maar wat dan saam met studieleiers (tutors) werk om seker te maak dat hulle darem al hulle werk verstaan.
Een van die redes waarom ek nooit so iets sou aanpak nie, is omdat ek en Wiskunde nie maats was op skool nie. Eintlik was ek seker maar net te lui om Wiskunde te neem en het toe deur Biologie geworstel! Wat ek met Biologie sonder Wiskunde wou doen weet ek wraggies nie (dis te danke aan ‘n gebrek aan behoorlike leiding na moontlike studierigtings).
In elk geval, terug na die gesprekke rondom tuisonderrig: Wat ontstellend is, was al die aanmerkings rondom onderwysers wat te lui is om hulle werk te doen, dat hulle kla terwyl hulle vier vakansie per jaar kry, dat hulle niks doen sedert inperking ingestel is nie. Daarmee kon ek darem nog saamleef, want daar was genoeg ouers wat opgekom het vir hulle kinders se onderwysers en die ware prentjie ingekleur het: lang ure se nasienwerk, ure se voorbereiding aan video materiaal vir aanlynklasse tydens inperking, voorbereiding vir klasse toe kinders vir korter periodes terug skooltoe is, en nog baie meer.
Die tweede ontstellende ding was die op/aanmerkings van ouers wat vermakerig vertel dat hulle maar liewers hulle eie kinders onderrig om verskeie bisarre redes, maar dan self nie behoorlik kan spel nie. O wee!! Daardie mense se kinders word deur hulle onderrig!! Hoe gaan hulle kinders deur tuisonderrig kom, sonder studieleiers, en behoorlik hulle grade deurkom as die hulp wat dan nou tuis is, nie self behoorlik opgelei is vir die taak nie?
My persoonlike mening is dat ouers wat hulle kinders tuisonderrig wil gee, ten minste self aan ‘n minimum skolastiese standaard moet voldoen voordat hulle toegelaat mag word om hulle kinders self tuis te onderrig. Indien ouers nie aan hierdie standaard voldoen nie en steeds die tuisonderrig roete wil loop, moet hulle verplig word om vir hulle kind(ers) ‘n gekwalifiseerde studieleier te kry saam met die tuisonderrig opsie wat hulle kies.
Wat help tuisonderrig jou kind as die standaard wat jy daar stel laer is as dit wat hulle in die formele skool sisteem sou kry?
