Dag 17 – Vroue-maand 2020

deur Surene Esterhuizen

Ek het nou Dag 13 laas iets geskryf, maar het besluit ek gaan nou nie my polse afkou omdat ek 3 dae gemis het nie. Ek was besig met navorsing vir daai skriffel oor wanneer laas het jy iets vir die eerste keer gedoen. 

Intussen … kom ek vergas julle met …

Foto krediet – die uwe!

… my gunsteling dis se resep – brokkoli-hoender gereg! Wanneer ek hierdie resep maak sal ek altyd dink aan tannie Regina, by wie ek die eerste keer die resep gekry het in 1994, en Ilzé, haar dogter en destyds my woonstelmaat.

Ek gebruik gewoonlik ’n resep as basis wanneer ek iets vir die eerste keer maak. Maar daarna is dit tickets … dan word alle bestanddele by benadering – of soos wat ek lus is vir dit – gebruik.

Nou eers hoe ek dit doen. Ek sal onder aan die blad ek ’n skakel invoeg van die resep wat die naaste is aan die een wat ek gebruik.

Na gelang van die groote van die bak wat jy gaan gebruik, benodig jy gaar, gevlokte hoender, gaar broccoli en gaar rys. Ek braai ook uie en sampioene apart, wat ek gewoonlik meng met die gevlokte hoender. Hierdie word in lae gepak: eers rys, dan hoender-mengsel en laaste die brokkoli.

Ek maak my sous met die volgende bestanddele – ek meng als sommer in ’n groterige maatbeker:

  • 1 pakkie sampioensop
  • Ongeveer 500ml melk
  • Ongeveer 500 ml mayonnaise
  • Kerrie na smaak (ek proe aan die sous tot dit reg is)
  • 40 ml suurlemoensap (ook na smaak, sommige mense hou nie van te suur nie)
  • sout en peper na smaak

Die sousie word dan oor die kos in die bak gegooi, met baie kaas bo-oor gestrooi. Ek bak dit dan vir 40 min teen 180°C.

Praat van ’n salige, heerlike bederf!! https://marindakook.co.za/broccolihoender-my-kinders-se-gunsteling/