“You often feel tired, not because you’ve done too much, but because you’ve done too little of what spark a light in you.” – Anonymous
Wie die quote kwytgeraak het, weet ek nie. Maar dis beslis food for thought daai.
Die lewe het so gejaagd geraak dat ons letterlik van die een plek na die ander jaag en skaars stop om asem te skep of soos die Engelse sê: to smell the roses! Ons gesinne leef saam in een huis, maar dis al wat ons doen: leef bymekaar verby! Soms hoor jy iemand sê dat sy haar man of kinders dae lank nie langer as 5 of 10 minute gesien het. (Dit kan ek beslis nie verstaan nie.) En naweke het hulle geen tyd vir hulself nie, want dan staan die huishoudelike takies eerste in die ry! En dis winkels toe om die week se kruideniersware aan te vul. Dis hartseer dat sommige mense se werk hulle lewens so oorneem dat hulle letterlik net werk om te bestaan. En dit help natuurlik ook nie dat sommige mense ʼn uur (of meer) in die oggend en weer ʼn uur (of meer) in die middag en route is werk toe nie.
Ek onthou as kind hoe ons gereeld weggegaan het vir naweke om by familie of vriende op naburige dorpe te gaan kuier. Moeksie se broers kon almal een of meer musiek instrumente bespeel en ʼn suster of twee kon darem saam met die manne sing. Het nou die dag ʼn nostalgiese middag deurgebring met Moeksie se foto albums met foto’s van al die lekker kuiers by die huis of by die see! Die manne het dan musiek gemaak en die mooiste liedjies gesing! Ek onthou veral die ABBA songs! Waterloo, Does your mother know, Dancing Queen, Take a chance on me, en nog vele meer! Ek kan net behaaglik sug!
Daai was ook nog die dae wat die petrolstasies iets soos 5nm of 6nm toegemaak het op ʼn weeksdag. Saterdag oggende was dit slegs oop tot 1nm. In fact, al die winkels het daardie tyd toegemaak en eers weer Maandagoggend oopgemaak. Ek kan nie eens onthou dat ek daardie tyd iets soos ʼn kitsbank gesien het nie. As jy nie genoeg brood, melk en groente gehad het vir die res van die naweek nie, was dit nou maar tot daarna toe! Moeksie het in elk geval self die lekkerste brood gebak en ons kinders het baklei oor wie die korsie kry … en dan stap Dad daarmee weg! Sondae was dit kerk en Sondagskool! En Moeksie se Sondag kos: braaiboud en –aartappels, groenboontjies, savory rys, soet patat of pampoen! Njammies! (Dis jammer dat ek nooit leer kook of bak het nie … mens dink mos jou ma gaan vir altyd leef!) Dit het gevoel of ʼn naweek vir ewig aanhou. En gesinne het tyd gehad vir mekaar: ons het kaart of Monopoly gespeel. Radio stories geluister. Dad en die buurt se seuns het bal geskop! Ons het cowboys and crooks gespeel op die veldjie oorkant ons huis. Ons het nie ʼn TV gekry voordat ek omtrent 13 jaar oud was nie.
En nou? Nou leef ons letterlik van dag tot dag. Kom uitgeput saans tuis en dis kosmaak, huiswerk, tasse pak, bad en gaan slaap. Net om môre weer deur dieselfde roetine te wroeg. Ons maak nie tyd vir ons self nie en elke naweek is binne ʼn oogwink verby. Bitter min kinders speel nog buite en baie sit voor die TV of speel elektroniese speletjies op selfone of tablets. Wat doen jy en jou gesin naweke om die tyd saam te geniet? Of leef julle ook maar net by mekaar verby? Wanneer laas het jy die natuur geniet saam met jou gesin?
Ek maak altyd ʼn punt daarvan om my seun te vat vir ʼn brekkie of milkshake sodat ons sommer net kan chat. Soms sal die gesprekke draai by onderwerpe waarop hy reageer met: Really! Moet ons nou híéroor praat? Met my wat met ʼn besliste ja daarop reageer, want sy pa sal beslis nie die onderwerpe aanraak nie. As hy nie wil praat nie, is dit OK, maar hy sal wraggies luister en hoor wat ek sê. Een of ander dag sal hy in ʼn situasie kom wanneer dit waaroor ons soms chat sal terugkeer in sy gedagtes en hom sal help om goeie besluite te neem.
My challenge vandag is: Maak tyd! Maak tyd vir God, jou man, vrou en kinders. Maak tyd vir jou ouers! Maak tyd vir jouself. Onthou: as jy nie jou batterye herlaai nie, is jy useless vir jou geliefdes!! LÉÉF in hoofletters!
PS: Ek het natuurlik nooit ooit ʼn probleem om tyd te maak vir goeie leesstoffies nie! 😊