
Ten spyte van die feit dat sussie eintlik al in haar jare is, bloos sy nog vreeslik erg wanneer dit by ‘n Stoom Romanza kom. Gelukkig bestaan die boek uit veel meer as net ‘n gestoom. Hierdie een was ‘n lékker lees. Erla Diedericks het haarself oortref met die humor hier in. Ek het ‘n paar keer kliphard uitgebars van die lag.
Die heldin, Andrea, is my tipe vrou. Sy geniet die lewe in oorgawe … veral haar kos! O, ek kon myself vereenselwig met haar liefde vir lekker kos. (Vir my is dit natuurlik verkieslik dat iemand anders die kos maak, want teen die tyd dat ek klaar kos gemaak het, is ek nie meer honger nie.)
Dan is daar haar eks, Stiaan, oor wie sy net nie kan kom nie. Het sommige van ons nie maar ‘n “one that got away” nie? Maar Die reünie sal jou beslis met nuwe oë laat kyk na die een wat jy dink weggekom het …
Dan het ‘n paar aspoestertjie skoene en die noodlot ander planne …
Koop gerus en lees self. Jy sal nie spyt wees nie.
