Ons almal het een of ander tyd bietjie stres wat ons moet hanteer. Hoe hanteer jy dit? Ek lees, luister musiek, skryf (alles is nie altyd publiseerbaar nie) en craft. O ja, en stap! Ek love stap!
My gunsteling stress-reliever is lees. Ek is totaal en al verslaaf aan woorde. Ek is, soos die Engelse sê, a librocubicularist. Wat is ’n librocubicularist – dit is iemand wat in die bed lees! 😊
Ek wag net vir die winter … deur die somermaande koop ek soveel boeke aan as wat my begroting toelaat en hou dit vir lekker reënerige, wintersnaweke. Ek kan maklik die hele naweek met ’n paar boeke in die bed deurbring en net lees en slaap en nogmaals, lees en slaap. O ja, ek eet ook bietjie, maar dis maklike kos … niks wat my te lank wegneem van my leesstoffies nie. My leeslys bestaan gewoonlik uit lekker soppy liefdesverhale en Afrikaanse krimi’s. Die meeste Suid-Afrikaanse skrywers is ongelooflik goed en soos baie van ons het ek met ’n Deon Meyer begin. Intussen het ek vir Martin Steyn, Rudie van Rensburg, Peet Venter en Madelein Rust ook ontdek.

Die probleem is: goeie krimi’s word nie sommer oornag geskryf nie, en omdat daar so baie navorsing ingaan, publiseer hulle hopeloos te stadig na my leeslus. As jy nou ‘n krimi met ‘n lekker donker kant wil lees, dan is Martin Steyn jou man! Ek het nog net sy nuutste boek gelees … ek kan nie wag vir die regte koue winter om die res te lees nie.
Wat lees jy? Soek jy idees? Wil jy by ’n Facebook groep aansluit waar daar lekker resensies gedeel word oor van die nuutste Afrikaanse boeke? Dan is Lekkerleesboekrak net die plek vir jou. Volg die skakel en sluit gerus aan. Jy sal selfs die skrywers ook daar as lede aantref.
Ek glo dat daar vir elke leser ‘n nuwe wêreld oopgaan met die lees van boeke. Jy kan die wêreld vol reis en nuwe kulture beleef in een naweek. My gunsteling gesegde is: A reader lives a thousand lives before he dies. The man who never reads lives only once.

Tot volgende keer …
Surene
PS: Foto krediete … êrens van die internet af
Skriffel se Kopiereg: Surene Esterhuizen