Ek wonder hoeveel mense kyk net vas teen wat hulle wil? Ek het al agtergekom Suid-Afrikaners is maar geneig om soms lekker teen ons ooglede vas te kyk en dan vinnig op die bandwagon te spring van oordeel, name and shame, en boikot!
Ek het die afgelope twee weke nou weer baie gedink aan die MultiChoice-Steve-debakel terwyl ek saans Afrikaanse flieks en reekse op Showmax gekyk het. Ja, ek het nie DStv nie – nie omdat ek MultiChoice boikot nie, nee. Ek kan eenvoudig net die bekostig om elke maand daardie astronomiese fooi te betaal vir herhalings van veral oorsese content nie en dan nog moontlik vir die afstand beheerder moet baklei nie.
Terug na Showmax en die Afrikaanse flieks en reekse – ek kom tot die slotsom dat die meeste Suid-Afrikaners wat nie DStv met kykNET kan bekostig nie, nog altyd ‘n groot verlies gely het. Ja, hoor my mooi. ‘n Groot verlies! Daar is van die wonderlikste Afrikaanse talent wat ek net nog nooit gesien het nie, veral die reekse! Suid-Afrikaanse akteurs en aktrises wat maandeliks hulle brood en botter verdien omdat MultiChoice Afrikaans ondersteun deur daardie produksies vir my en jou moontlik te maak.
Wil jy regtig – omdat MultiChoice een man se views nie ondersteun nie – honderde Suid-Afrikaanse akteurs en aktrises, asook aanbieders hulle brood op die tafel ontneem? Hulle kinders van ‘n dak oor hulle kop en schooling ontneem? Regtig? Om nie eens te praat van ander poste wat deur Afrikaanssprekendes gevul word by MultiChoice kantore nie. Wil jy regtig só vlak wees? Dis nou daardie selfde man wat al ‘n lekker vet inkomste uit MultiChoice verdien het … daar is ‘n gesegde dat mens nie die hand byt wat jou voed nie.
Lees gerus hier wat skryf Ilza Roggeband in haar LitNet artikel. Dis baie insiggewend – net jammer dat daar Afrikaners is wat so laag daal om haar name te noem: onnosel, gemors, gatkruiper en gaan selfs so ver om haar ‘n verkragting toe te wens. Heigent hert, mense! Is dit hoe laag ons society gedaal het? Is dit wat sosiale media aan mense doen? Om so iets vir iemand te sê wat ek jou wed jy te bang sal wees om vir haar in haar gesig te sê? Ek het al die voorreg gehad om vir Ilza te ontmoet. By twee geleenthede, wat slegs eintlik ‘n vinnige besoek van ‘n paar minute geregverdig het, het dit staande gesprekke van amper ‘n uur elk geword. ‘n Vrou met insig, ‘n belese vrou, ‘n vrou met hoop vir ons land en ons kinders se toekoms in hierdie land. Meer, baie meer as wat ek van myself kan sê. Ek het soms min hoop … ek werk in ‘n industrie waar ons elke dag gemaal word deur BEE, waar ons gereeld die effek voel van ons huidige politieke situasie.
As gevolg daarvan het ek gereeld die gesprek met my matriekseun om homself voor te berei in ‘n beroep om die land te kan verlaat. En raai wat, hy wil nie. Hy is lief vir sy land en ek dink nie hy sal maklik die land se stof van sy skoene afskud nie. Hy – en baie ander Afrikaanssprekende jongmense – het meer hoop vir ons land as al daardie klomp galbrakers wat nou in hulle duisende vir Steve ondersteun. Ek verstaan, ja, hy ondersteun Afrikaans, veg (miskien) vir Afrikaans, maar so doen MultiChoice ook … die bewyse lê in al daardie Afrikaanse flieks en reekse wat ek en jy kan kyk op kykNET / Showmax. Die verdere bewyse lê in geleenthede soos die Ghoemas wat hulle borg. Wat meer wil julle hê?
My vraag is: Does Steve Hofmeyr put his money where his mouth is?