Ons is nou by dag 112 van hierdie jaar! ʼn Tyd gelede – op dag 73 van 365 om presies te wees – het ek geskryf oor nuwejaarsvoornemens! En watter voornemens het dit gemaak tot op daardie dag en watter nie.
Sadly, moet ek sê dat op dag 112 – 39 dae later – kan ek niks positiefs byvoeg op my lysie nie. Behalwe dat my matriekseun besig is om mý lysie vir hóm met meer sukses deur te werk!

Skuus, ek kán actually ietsie byvoeg – ek het myself al vir vier 5km stappe ingeskryf hierdie jaar. Die eerste een is oor 9 dae, die tweede een is oor 34 dae, derde een oor 109 dae en dan vierde een oor 145 dae. Julle sal oplet dat ek alles in dae aandui en nie die datums nie! Dis so intimiderend om te besef dat die eerste een alreeds op 1 Mei 2019 moet gebeur. Oh my word! Ek is nie stap-fiks nie! Nie genoeg nie!
Anders as hiervoor ingeskryf, wat het ek nog gedoen? Ek het al 25 minute flink gaan stap … gister. Of was dit dalk eergister? Nee, dit was darem gister. Vandag, nog niks! Ek soek ʼn emotikoon (gesiggie-dingetjie) wat kan wys hoe ek my kop in skaamte laat sak. Maar Brian Tracy, ʼn motiveringspreker het gesê: “Dis om die eerste tree te neem, wat die wenners van die verloorders skei.” 😀 Ek hét darem al die eerste tree gegee.
Dus het ek myself gechallenge om elke dag ten minste 25 – 35 minute te stap, al stap ek 6 keer om my singel. Ek moet stap-fiks word. Stap moet ek stap, want ek wil, nee móét my stap spoed verbeter.
Dag 1 was dus gister, 21 April 2019 …
Stap-groete,
Surene
PS: Ek het nóg iets gedoen, maar daaroor swyg ek eers, want soos skrywer Marion Erskine graag sê: Ons gaan dit nie jinx nie!
PS2: O ja, daai 25 minute is gelyk aan 2.45km 😉