Ek onthou êrens naby die end van 1993 het ek elke oggend dieselfde ritueel deurgegaan. Stap in by ons kantore, en groet almal soos ek die gang afstap. Net voor ek by my eie kantoordeur kom, sit ons afdelingshoof se sekretaresse en groet altyd vrolik: “Goeie môre, hoe gaan dit?” En ek antwoord: “Ag, OK, dankie.” En een dag toe vra sy of dit dan nóóit goed gaan met my nie.
Sjoe! Wat ʼn “eye-opener” was dit nie daardie dag nie! Dit het my gedwing om bietjie te gaan sit en te gaan dink oor my lewe op daardie stadium. Ek was 23 jaar oud en sielsongelukkig! My broer is daardie jaar op 19-jarige ouderdom dood in ʼn frats ongeluk en ek het hom elke dag so baie gemis dat ek amper nie eens kan opstaan om my lewe te leef nie en dat elke dag net OK was. Ek het op daardie stadium al drie jaar uitgegaan met ʼn outjie op wie ek sedert ek 16 jaar oud was ʼn “crush” gehad het, maar was alles behalwe gelukkig. Die verhouding het my van al my positiewe energie gedreineer.
Ek het binne ʼn paar maande drastiese veranderinge in my lewe aangebring – my verhouding verbreek, van werk verander, by my ouerhuis uitgetrek en ʼn woonstel met ʼn vriendin begin gedeel … en begin rugby kyk in 1994 tydens die wêreldbeker!! Ek het daardie jaar begin lééf – elke oomblik van my lewe geniet. Bedags gewerk, saans klasgeloop, daarna soms uitgegaan, wonderlike mense ontmoet – want my broer sou wou dat ek die lewe lééf en nie net OK wees nie. Hy was ʼn mense-mens, adrenalien-junkie, wat elke oomblik van sy kort lewe geniet en waarlik geleef het. Ek dink hy was die een mens wat ek geken het wat nooit spyt was oor enige iets wat hy gedoen het nie. Ek het hom selfs een aand op ʼn kroegtoonbank sien dans … daar was net so ʼn effense “hesitation” toe hy sy ousus in die gehoor sien – en verder het hy met oorgawe gedans! Dis hoe hy was … GELEEF in hoofletters.
Dalk is ek effe spyt oor sommige geleenthede wat ek deur my vingers laat glip het, maar dan sou ander weer nie daar gewees het nie.
Hoe gaan dit vandag met jou? Dit gaan fantasties met my!