Melissa Massyn terug op SA bodem

deur Annette Havenga

Na twee maande in Bali, Indonesië, het aktrise Melissa Massyn saam met sowat 150 Suid-Afrikaners na ’n lang vlug weer op Suid-Afrikaanse grond voet neer gesit.

Die jong aktrise was vir ’n werkende vakansie in Bali toe die COVID-19 pandemie losgebars het en Suid-Afrika onder Vlak 5 kwarantyn geplaas is. Vlugte na Suid-Afrika is drie keer gekanselleer. Vir die gestrande Suid-Afrikaners was daar die vrees dat Indonesië ook, na Suid-Afrika, ingeperk sou word. Met die media, SAL en die Ambassade se ingryping is daar opgetree en die groep Suid-Afrikaners kon uiteindelik terugkeer huis toe.

Gestrande Suid Afrikaners moes maar self opdok vir hulle verlengde verblyf in lande waar hulle vasgekeer was. Die regering het wel die kwarantyn verblyf betaal.

Melissa Massyn ervaar eg Bali tradisies

Daar is uiteenlopende ervarings van die kwarantyn proses, die prosedures en die huisvestings vir hierdie doeleindes. Alhoewel sommige mense slegte ervarings gehad het, het Melissa die teenoorgestelde deurgemaak. Inteendeel, sy prys die betrokke partye en sê daar was goed na hulle gekyk. Volgens haar was die hele proses goed georganiseerd en professioneel. Lede van die SAL en die Suid-Afrikaanse Ambassade in Indonesië het hulle kom haal in Bali en was voortdurend betrokke by die proses en selfs die Ambassadeur was saam met hulle op die vlug.

               “Die lugwaardinne het soos Eskimo’s gelyk, in vol suits aangetrek.”

Met hulle aankoms op die OR Tambo lughawe was dit bykans middernag en was die lughawe uiteraard leeg en soos ’n spookdorp.

“… so apocalypse gevoel.” -Melissa-

Passasiers is tien op slag uit die vliegtuig toegelaat waarna hulle op die lughawe toetse moes ondergaan en daarna per bussies na die kwarantyn huisvesting geneem is. Dit was toe reeds lank na middernag. Daar was reeds Suid-Afrikaners van Washington op dieselfde perseel en is hulle groep in ‘n ander deel van die hotel geplaas vir hulle kwarantyn periode. Hier het hulle volledige toetse ontvang en hulle temperatuur is ook elke dag gemonitor. Die toetse is nie aangenaam nie en vind plaas deur óf ’n swab via die neus, of keel, te neem.

Terwyl in kwarantyn kon Melissa haarself besig hou deur aanlyn te werk.

“Ander dae het ek sommer net lekker Netflix gekyk!” -Melisa-

Slegs drie dae na die toetse geneem is, het Melissa en die res van haar geselskap die nuus ontvang dat hulle toetse negatief is en dat hulle binnekort kan terug keer huis toe. Die uitslae was ook per sms aan die betrokke persone gestuur.

Na ’n week in kwarantyn was die hele groep ontslaan. Melissa is steeds in Johannesburg waar sy dadelik begin werk het aan ’n nuwe projek.