Nooit is ‘n lang, lang tyd

Ek hou daarvan om weg te gaan vir naweke en ‘n paar lekker leesboeke saam te piekel. Soos gewoonlik het ek weer die afgelope langnaweek vir my ‘n paar boeke nader gehark en een besluit op een van my ou gunstelinge – Nooit is ‘n lang, lang tyd deur Anchien Troskie.

Drie vriendinne – in hulle veertigs – gaan hou saam vakansie langs die see. En in ‘n oogwink verander ‘n jare lange standvastige vriendskap in ‘n stormagtige moeras.

Daleen skraap eindelik die moed bymekaar om die waarheid omtrent haar en haar lover, Jan, se verhouding te vertel. Amelia praat laat een aand haar mond verby oor haar affair met ‘n getroude man. Karien is ontsteld oor hierdie ontboesemings omdat sy ook haar eie verliese het om te verwerk – meer as waarvan sy bewus was. Sy pak haar goed en gaan terug huis toe, want hoe kon haar twee, beste vriendinne haar soveel jare lank ‘n rat voor die oë draai?

Daleen kan nie die verwerping van die gemeenskap aanvaar nie en verloor amper vir Jan in die proses. Amelia is verlig dat sy eindelik die waarheid oor haar egbreuk vertel het, maar nogtans hartseer oor die verbrokkeling van ‘n kosbare vriendskap. Karien sukkel om haar vriendinne se verraad (soos sy dit sien) te verwerk.

Dis ‘n boek oor vriendskap, oor leuens, geheime, kinders, kilojoules, mans, homoseksualiteit, alkoholisme en nuwe beginne! Die karakters word so getrou uitgebeeld dat ’n mens aan die einde van die verhaal voel jy sê tot siens vir jou vriendinne.

‘n Boek wat oor en oor gelees kan word – dis die derde keer wat ek Nooit is ‘n lang, lang tyd lees en telkens voel dit vir my of daar iets van myself in die boek agter bly.

Jy mag dalk die boek nog in ‘n boekwinkel raakloop as dit nog nie uit druk is nie, maar jy behoort dit steeds by ‘n biblioteek te kan kry.

ISBN:   9780795702778

Eboek ISBN:  9780795703294

Uitgewer:  Kwela

Skrywer:   Anchien Troskie