Omdat jy-reeks

Hierdie is sommer ’n informele review oor die Omdat jy-reeks. Het jy jouself al ooit so ingeleef in ’n storie dat jy al gewens het dat jy ’n karakter in ’n boek was? Ek wens ek was een van die girls in die Omdat jy-reeks wat ’n Greyton-huis en ’n Skim gehad het.  Miskien is dit nog nie te laat nie?

Die Omdat jy-reeks begin met Omdat jy jy is – Kathleen en haar twee susters erf elkeen vyf miljoen rand na hulle geliefde tante Peet se afsterwe, maar moet ’n vreemde bepaling in die testament nakom voordat hulle mag erf. Hulle elkeen moet ’n eers ’n maand lank in haar huis op Greyton gaan bly.  

Tipies Elsa Winckler-styl, sal daar beslis ’n paar komiese tonele in wees, ’n bietjie van ’n baklei-met-en-kan-nie-mekaar-verdra-nie tussen die twee hoofkarakters en chemie wat eenvoudig net nie gemis kan word nie, maar ook nie deur die tweetjies erken wil word nie.  

Boek nr 5

Ek het nou reeds al vyf boeke in die Omdat jy-reeks gelees en was bitter dankbaar om uit ’n betroubare bron 😉 te verneem dat die volgende Omdat jy-boek September 2021 op die rakke sal wees. 

Sover is Omdat jy my gesoen het my absolute gunsteling. Hoekom? Dalk oor hulle met hulle geleentheid koördinerings besigheid, Perfekte Troues, wel … natuurlik die perfekte troues reël? Dalk omdat ek ook mal is oor lekker soen? 😊 Die beste deel is toe Alec Debbie die eerste keer soen en sy hom vra: Is dit jou idee van ’n soen? En sy wys hom hoe dit eintlik gedoen moet word.  [Ek sug behaaglik en droom verlore.]

Behalwe die Greyton-huis is daar natuurlik ook Skim, die vier-voet Cupido, wat doodseker maak dat die paartjies op een of ander manier wel bymekaar uitkom. Dis tone-krul-lekker boeke en ook boeke wat jy oor en oor sal kan lees en beslis nie mee verveeld sal raak nie.

En natuurlik is ek vrek nuuskierig oor wie die volgende boek gaan … dalk Christie? Maar dan is daar nog Karina, Debbie en Christie se ma? Moet sy regtig haar goue jare sonder ’n maat wees?

Doen jouself ’n guns en kry jou hande op die Omdat jy-reeks:

  1. Omdat jy jy is – Kathleen & Steyn se storie (NB Uitgewers)
  2. Omdat jy my liefhet – Livie & Bart se storie (NB Uitgewers)
  3. Omdat ons saam is – Bella & Wian se storie (LAPA Uitgewers)
  4. Omdat jy die een is – Karina & Conrad se storie (LAPA Uitgewers)
  5. Omdat jy my gesoen het – Debbie & Alec se storie (LAPA Uitgewers)

Die wat nie meer in druk beskikbaar is nie, is hopelik in eboek formaat beskikbaar.

Boek nr 1
Boek nr 2
Boek nr 3
Boek nr 4

Foto krediete: www.elsawinckler.com