Titel: Op pad na Moormansgat
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau, 2022
Ek hou nie van boeke met geskiedenis as tema nie. Ek het geskiedenis letterlik op 33.3% deurgekom … dit interesseer my werklik nie.
Ek het wel groot respek vir mense wat dié tipe kennis het. Hulle kan altyd só interessant gesels en ek moet 99% van die tyd gaan Google of die goed werklik gebeur het en dan hang my mond letterlik oop, want hulle onthóú die goed!! 😉
‘Op pad na Moormansgat’ het onverwags op my lessenaar beland. Die keuse was dus nie myne of ek dit wou lees of nie.
Maar as jy van enige Chris Karsten se ander boeke hou, kan jy gerus hierdie boek aanskaf. Ek glo jy sal nie teleurgesteld wees nie.
Die vertelling strek oor meer as 5 dekades. Die verweefde stories word só vertel dat dit selfs my aandag gehou en my nuuskierigheid bly prikkel het.
Daar is interessante gesegdes wat ek onthou my oupa ook gebruik het. Dit het sommer ‘n lekker skoot nostalgie vir my ingegooi.
Ek wil nie te veel weggee nie, daarom deel ek die sinopsis vanaf die uitgewer se webtuiste hier:
‘Een aand in 1914 word Koos de la Rey op pad na ’n rebellie noodlottig gewond. Die teiken was die bendelid William (Billy) Foster. Dat De la Rey in die spervuur beland het, was pure toeval. Of was dit?
Die roman is ‘n verweefde tapisserie waarin die verhale van vele vertel word: die storie van o.a. Billy Foster se dogter, Helena; die trawalle van die hensopper Segrys Heyns en sy agterryer Tappies Mahlangu; die speurtog van poliesman Isak Heyns.
’n Merkwaardige, hoogs leesbare geskiedkundige roman.’
Vandag deel ek nie sterre uit nie, maar ‘Op pad na Moormansgat’ verdien beslis die benoeming as ATKV Woordveertjie finalis in die kategorie ATKV-Prosaprys.
Die feit dat ek hierdie werk wéér vrywilliglik sal lees, sê ook baie meer as ‘n ster toekenning.
