Ja, ek weet … nobody’s perfect!! Maar weet jy, mens kan sien wanneer dit ʼn tikfout is of wanneer mense eenvoudig net nie kan spel nie.
So, het ek ʼn kleintjie dood aan mense wat nie besef dat soms is daar woorde wat dieselfde klink, verskillend gespel word, maar heeltemal verskillende betekenisse het nie.
Hier is ʼn paar voorbeelde:
Dus en dis
Dus ʼn lekker dag. ×
Dis ʼn lekker dag. √
Hy het ver geloop, dus was hy moeg. √
Waardeer en waardeur
Ek waardeur wat jy vir my doen. ×
Ek waardeer wat jy vir my doen. √
Die venster waardeur hy geklim het, is hoog. √
Vermy en vir my
Hulle het spesiaal vermy kom kuier. ×
Hulle het spesiaal vir my kom kuier. √
Ek vermy eerder ʼn persoon of situasie as om konflik te veroorsaak. √
Epos en e-pos
Stuur dit asseblief per epos aan my. ×
Stuur dit asseblief per e-pos aan my. √
ʼn Epos is ʼn verhalende gedig. √
Ja, soms maak ek ook ʼn fout … ʼn tikfout. Want ai, ek sukkel maar baie wanneer ek op my foon ʼn boodskap moet tik. En soms wanneer ek op Facebook mense se posts lees, dan moet ek behoorlik op my hande sit om nie dadelik iemand reg te help nie. Nie oor ek wil hoofmeisie speel nie! Nee, omdat ek iemand graag wil reghelp om dit volgende keer reg te doen.
Daar is ʼn sekere dame wat ek ʼn paar keer probeer reghelp het omdat sy in die openbare oog beweeg en daar baie hooggeplaaste mense is wat haar Facebook-vriende is. Toe sê sy mos so na die derde of vierde keer wat ek haar (privaat) reggehelp het: dis hoe sý dit spel en klaar. Nou ja, sy kan dit spel soos sy wil, maar die betekenis gaan nie verander om haar te pas nie.
Mens moet dus maar oplet na hoe jy spel en wat jy wil sê … maak seker die betekenis gaan nie verlore in die proses nie.
Nite-nite!
PS: Nou sal ek darem self mooi moet let op my spelling!