deur Surene Esterhuzien
Vandag bring ek hulde aan een van favourite boeke: Koeke en terte, uitgegee deur Lux Verbi en geskryf deur Susan Coetzer – skrywer en motiveringspreker van formaat. Verlede jaar, Oktober, kry ek by ʼn ander Susan ʼn paar boeke vir my verjaardag. Een van die present-boeke is Koeke en Terte. Ek het dit uiteindelik hierdie naweek klaar gelees. As julle weet hoe my bedkassie lyk, sal julle weet daar lê ten minste so tussen 8 tot 12 boeke wat elkeen wag om ʼn beurt te kry.

Foto: NB Uitgewers webtuiste
Eerste ding wat ek lees is die agterblad wat begin met: Skou koek, tipsy tert of gevulde pannekoek. Onmiddellik wonder ek: Watter een sal ek wees? Ek love gevulde pannekoeke en suurlemoentert. Ek mag dalk later in die boek verras wees oor presies wie en wat die outjies is.
Maar die res van haar agterblad sê duidelik dat ons vroue almal van mekaar verskil soos koeke en terte in ʼn tuisnywerheid. Susan moedig vroue op ʼn humoristiese manier aan uit te vind presies waar pas jy in en om uit te rys tot die beste weergawe van jouself. Of jy nou koekerig, terterig of iets tussen in is … nie een van ons is volmaak nie, daar is altyd ruimte vir groei. Veral in naaste liefde, deernis en aanvaarding.
Die boek is baie interessant saamgestel. Susan het nie net geskryf oor koeke en terte nie. Sy het 30 hoofstukke waarin sy eetgoed gebruik het om vroue mee te beskryf. Elke hoofstuk begin met ʼn beskrywing bv. hoe lyk ʼn skuimpie? Watter tipe vrou is dit? Of hoe lyk ʼn skou koek? Daar is bemoediging en wenke. Daar is ʼn slypskool. Die slypskool gedeelte is vrae waarvan jy die antwoorde in jou joernaal kan neerskryf en bietjie jou gedagtes kan laat gaan. Pas ek hier in; ja of nee? Dan is daar Skrif vir daardie spesifieke koek of tert. Stilwordtyd met vrae en nog meer in diepte dink oor wie en wat die persoon is. Vir die outjies wat saamreis, is daar ook ʼn slypskool in die boek, asook stilte tyd en Skrif. Bv. as ek saam met ʼn skuimpie bly, hoe deal ek met daardie skuimpie?
Ek is beslis nie ‘n gevulde pannekoek nie. Sy sê ʼn gevulde pannekoek is daardie vroue wat met styl, gasvryheid en goeie maniere ander mense beïndruk. Hulle kan 5-ster verblyf en 5-ster kos verskaf. Ek is een van daardie mense wat eerder on the spur of the moment iets sal wil doen en sal dan regkom met wat beskikbaar is. Alhoewel ek soms hou van my lysies wanneer ek goed moet pak vir ʼn vakansie wat lankal beplan is. ʼn Tipsy tert is weer voor op die wa, en hardloop op hoë hak skoene die hele wêreld vol. Dis beslis ook nie ek nie. Ystervarkies is die onskuldige soetgoed wat onder harde klapper skuil. Skou koek is ook nie ek nie: hulle dien weer op al wat ʼn vereniging is.
Wat ek wel gaan sê is: Ek kan so hier en daar ʼn eienskap vir myself vat by verskillende koeke en terte. Maar as ek al daardie bestanddele bymekaar gaan gooi, gaan dit beslis sorg vir iets baie interessants.
Ek wil nie te veel weggee nie … die boek is ʼn absolute moet-lees boek. Daar is geen twyfel daaroor nie. Jy gaan meer raaksien as jouself. Jy gaan jou vriendinne en familie raaksien.
Jy gaan die boek wil lees en weer lees en wéér lees. Doen jouself die guns en gaan koop Koeke en terte van Susan Coetzer. Dit gaan ʼn openbaring wees, maar dit gaan beslis ook sorg vir baie binne-pret!