deur Leoné Mostert
Vandag is ek dankbaar vir my geloof. Ek sit nie elke Sondag voor in die kerk nie. Ek is nie iemand wat Jesus voor en agter nie, want ek het in ‘n gemeente grootgeword waar dáárdie mense die ergste mense was. Goeie voorbeeld: die oom wat voor Sondagskool voor in die kerk gestaan en vir ons gesing het “dit borrel in my, want ek is so bly…” het sy vrou mishandel en geslaan en sy het hom morsdood-vrek geskiet een Sondag voor kerk. Verstaan jy nou waar ek vandaan kom? Dit het duidelik in haar ook geborrel. Nes ek baie dae borrel. Soos Mentos in ‘n bottel Coke.
Anyway. Ek staan steeds sterk in my geloof, op ‘n manier baie anders as baie mense (en ook ‘n groot gedeelte van my familie) tot baie mense se frustrasie. Dit pla my nie meer nie. Lankal nie.
Ek is dankbaar vir die verhouding wat ek en my Here het, want baie dae bid ek hardop: “Here, U ken my. U het my geskape. Gee my asseblief vandag geduld en nie krag nie, anders maak ek iemand dood”. Not for real okay. My Here ken my en my Here het ook baie beslis ‘n sin vir humor, anders was ek nie wie ek vandag is nie.