Dag 71 – 125 dae van dankbaarheid

deur Surene Esterhuizen

Op 8 September 2020 het ek baie entoesiasties my eerste skriffel gedeel oor dankbaarheid … saam met ses ander dames. Ek het gedink dit gaan maklik wees as elkeen van ons slegs een keer ‘n week ietsie gaan deel waarvoor ons dankbaar is en dat ons dan sommer tjoef-tjaf op 10 Januarie 2021 ons 125ste skriffel sou deel.

Ek wou na die 125 dae vir ons sewe die skriffels in ‘n boekie gebind het om dan as ‘n herinnering saam met ons te dra, maar helaas, dis nie só maklik nie! Life happened! Dis hartseer om te dink dat te midde van al die goedheid en guns wat God in ons lewens gee, ons nie eens een keer in 7 dae iets het waarvoor ons “dankie” kan sê nie. Dan wonder ons soms waarom dit so sleg gaan met ons, waarom daar dinge gebeur waarvoor ons nie gevra het nie. Maar terwyl ons nie ons dankbaarheid kan verwoord en deel nie, hoe kan God ons meer gee? Hoe kan Hy ons meer gee, as ons vir die bietjie van elke dag nie eens kan dankie sê nie?

Sjoe, Vader, het vanoggend hard geslaan toe hy deur middel van ‘n WhatsApp vanoggend vir my ‘n boodskappie stuur: Celebrate every win, no matter how small!

Waarvoor is ek dus dankbaar op dag 71? Ek is dankbaar vir elke klein dingetjie in my lewe wat my dag lekker maak. Ek is dankbaar vir my hond wat soggens vir my met ‘n nat bek kom môre sê. Ek is dankbaar vir my mense!! Ek is dankbaar vir my kind wat alles raaksien wat ek vir hom doen … al sê hy dit nie wanneer ek wil hê hy moet nie, maar wel wanneer ek gedink het hy sien dit nie! Ek is dankbaar vir vriende wat my liefhet, ongeag die feit dat ek soms lekker screwed up is. Ek is dankbaar vir die mees onwaarskynlike vriendskap in my lewe – jy weet wie jy is, want ons gesels elke dag. Ek is dankbaar vir vriende wat onvoorwaardelike vergifnis teenoor my uitgespreek het, toe ek dit glad nie verdien het nie. Ek is dankbaar dat hulle voorbeeld my nou deur ‘n situasie help om presies net só op te tree, want dis wat Jesus sou doen.

Ek is boweal dankbaar vir my Vader, my Voorsiener, wat my liefhet ongeag die feit dat ek ‘n sondaar is en steeds elke dag foute maak. Ek is dankbaar dat Vader elke dag met my bemoeienis maak! U is my alles!!