as die kruis kon praat

as die kruis kon praat – © Surene Esterhuizen

ek sit met ‘n droom in my hart
om weer in Israel se strate in U voetspore te loop
om weer deur die tuin van Getsemané te stap
en te weet U voete het hier geloop
Here, dit was ongelooflik
om eeue later te weet: U was ook hiér
hier in die tuin van Getsemané
het U my ook gewys dat ek
verlos sal word van die
wêreldse dinge wat my gevange hou

om weer ‘n bootvaart te beleef
op die See van Galilea
en te weet: hiér het U die storm stilgemaak
soos U ook die storms in my hart stilmaak

om weer die Vallei van Ela te besoek
en te besef U is groter as
die Goliats in my lewe
my 5 klippies lê op my rakkie
om my te herinner

U, my Vader, is groter as groot

om weer die bad van Betesda te sien
en te weet U maak bemoeienis
met my, want hier het U vir my
‘n persoonlike boodskap gegee

om weer in die Wildernis van Judea
te staan, oor die woestyn te kyk
en te weet: hiér was U deur Satan versoek
en Here, hier het ek ‘n streep
in die sand getrek en gesê:
tot hier toe en nie verder nie

om weer Pilatus se verhoorsaal te besoek
en te besef: hier was U onskuldig verhoor,
gevange gehou, vasgebind, sonder kos en water
alleen . . . in ‘n donker diep gat

om weer in Israel op Golgota af te kyk
te weet hier het u aan ‘n kruis gehang
met die besef dat U dáár U
laaste asem uitgeblaas het … vir mý
as die kruis kon praat
sou ek besef dat dit nie
net ek is wat soms van
God verlate voel nie

sou ons hoor hoe U vra
my God, my God, waarom het U my verlaat?

as die kruis kon praat
sou ek my kop
in skaamte laat sak
soos die dag toe ek
U om vergifnis gesmeek het
en my hart onherroeplik aan U gegee het

as die kruis kon praat
sou ek weer hoor: jou skuld,
my kind, is vol betaal


© Surene Esterhuizen