Mense vra altyd waarom ek ~ wat maar eintlik ‘n stadskind grootgeword het ~ wil platteland toe. Dis waar ek Vader se teenwoordigheid langs my voel wanneer ek stap op die stofpaaie tussen plase of deur ‘n dorp. Dis waar ek Sy stem hoor in die geruis van die wind deur die bome se blare of in die rollende branders. Waar Vader deur ‘n wit veer op die strand sommer net vir my sê: Ek is hier!



Dis waar die sterre op hulle helderste skyn en nader voel. Dis waar die ruimte van die veld my hart met vreugde vul! Dis waar die voëls se gekwetter in die bome helderder is … veral vroegoggend. Dis waar ek die goggatjies in die sand van die stofpad sien, die nuwe blaartjies wat sommer so tussen êrens en nêrens uit kom en moedig deurbeur waar dit eintlik nie behoort te groei nie. ‘n Veer êrens op die sand! U is in elke sonopkoms, maar veral is U in elke sonsondergang, my gunstelingtyd van die dag saam met U.

Dis waar ek méér bewus is van ‘n goddelike teenwoordigheid in hierdie wêreld van ons. Dis waar ek kan werk en dit voel nie soos werk nie. Dis waar dieselfde 24 uur langer voel as in die stad. Dis waar daardie selfde 24 uur voel of ek baie meer tyd het en meer gedoen kry.
Ek wéét Vader het vir my ‘n plekkie êrens op die platteland, want Hy het dit beloof. Ek wag nog ~ nie so geduldig nie ~ om te hoor presies waar. Vader, U ken die versugtinge van my hart beter as ek self. U weet ook … ongeduld maak dat ek nuuskierig gewonder oor die volgende hoofstuk van my lewe. U is ook die enigste Een wat weet hoeveel tyd daar vir my is. Ek bid dat U die droom wat U in my hart gelê het, sal waar maak. U is die enigste Waarmaker van drome. My gunsteling song is nie verniet Way Maker nie.
