Hóé goed ken jy jou bure? Kén jy hulle regtig?
Dis soos enige straat in enige voorstad van Kaapstad … getroude paartjies met of sonder kinders, dalk ’n huisvroutjie of twee, een wat ’n salon van die huis af bedryf en dan natuurlik om alles net ’n bietjie spice te gee: die seksbom … die een wat deur byna elke vrou in die straat beny word … óf vir haar lyf óf vir haar onafhanklikheid!

Twee skote klap in die stil oggendure! Die skok-nuus: Emilee het haar man, ML geskiet! Was dit ’n beplande moord? Was dit selfverdediging? Skielik loop die stories oor die oënskynlik gelukkige paartjie. Het ML rondgeloop? Het hy Emilee geslaan? Stefaans glo natuurlik glad nie dat ML ooit sy hand vir Emilee sou lig nie. Die Russiese seksbom met wie ML ’n verhouding gehad het, het op hulle laaste aand saam vir die eerste keer ML se humeur ervaar … en sy wonder?
Die inwoners van Salemstraat is in twee kampe: vír Emilee en téén Emilee. Dié wie die merke op Emilee se lyf gesien het, het simpatie met haar. Die manne wat saam met ML gekuier het, kan nie glo dat hy Emilee sou slaan nie. Al het hy ‘n voorliefde gehad vir rowwe pornografie wat hy graag vir die manne aangestuur het op WhatsApp en wat hulle self vinnig van hulle fone afgevee het. Emilee voel bedreig deur die oud weermagman, Stefaans. (Ek self was lus om hom ’n klap of twee te gee!)
Een van die eerste persone op die toneel is Riaan, die joernalis. Hy het suburbs toe getrek vir ’n rustiger lewe en wat kry hy? Die voorblad scoop van sy lewe op sy nuwe voorstoep!
Wat is die waarheid? Daar is Liz, die prokureur met die voorliefde vir sake waaraan niemand anders wil raak nie, en Ann, die afgetrede psigiater, wat agter die waarheid probeer kom. Hoe dieper hulle grawe, hoe meer geraamtes tuimel uit die kaste en hulle vind uit dat die verlede nie noodwendig iets is wat in die verlede bly nie.

Die einde het ’n onverwagse twist en dáárvoor, liewe leser, moet jy jou kopie van Salemstraat, uitgegee deur LAPA Uitgewers, aanlyn bestel by Graffiti Boeke. Anders vra jou naaste boekwinkel om joune vir jou te bestel.
Hoe vergelyk Salemstraat met Dominique en Die Bewonderaar? Net soos die eerste twee boeke, is dit uitstekend geskryf. Ek sal egter twee keer dink voordat ek Salemstraat ook as ‘n riller klassifiseer soos die eerste twee boeke. Salemstraat is vir my meer ‘n mystery as ‘n riller. My nuuskierigheid om agter die kap van die byl te kom is baie meer geprikkel as wat ek ‘n angstigheid ervaar het soos bv met Die Bewonderaar.
Ek gee Salemstraat 5 sterre. Dit lees maklik, geen vervelige dele wat jy wil oorslaan nie en my nuuskierigheid was geprikkel tot op die einde.
