deur Reneé Smit
So sit ek ’n paar dae gelede en werk by die eetkamertafel en ek hoor hoe ’n voëltjie te kere gaan buite. Hy klink vicious en ek kan hoor iemand is kwaad. Corné kom in die sitkamer in en sê dit lyk amper asof Mienkie, ons Yorkie, ’n voël gevang het. En ek gaan loer buite en voel hoe iets bo my verbyvlieg. Voel soos ‘n boeing 747 wat op my neerdaal en dit fletter heen en weer en dit raas. En op die grond naby die swembad sien ek die klein voeltjie. Lankal nie meer baba nie, maar nog ver van uitgegroei. Ek raai die kleinding het uit die boom geval na ’n vliegles en so het Yorkie se jagter instink oorgeneem en die aanval geloods.
Terwyl ons nou vir kleinding probeer red, vlieg moeder owerste oor ons koppe en deel bevele uit en raas met ons; bekommerd oor haar kleinding.
Die uiteinde was tog dat die kleinding gered en met moeder herenig is. Dit als terwyl ons Yorkie verwoed rondhardloop, op en af en probeer uitkom om die jagtog af te handel en sy prooi te vang …
Dit het my nogal laat dink. So dikwels fletter ons rond, val ons rond en word ons verblind deur die dinge en gebeure van die wêreld. Ons val uit die nes en neem die verkeerde afdraai pad, en terwyl ons dit doen, los ons Pappa God ons nooit nie. Hy raas, hy huil, hy stuur mense op ons pad om ons op die regte pad te lei en Hy waak oor ons die hele tyd. En dit doen Hy terwyl die duiwel op en af hop en soos ‘n scavenger rondsnuffel en wag om sy aanval te loods.
Maar ons Pappa God is groter as hy. Hy beskerm ons en neem ons onder Sy vlerk en nooit maar nooit los Hy ons nie. Ten spyte van als is ons nooit alleen nie. Selfs in ons donkerste oomblikke is Hy daar. En daarvoor is ek vandag dankbaar …