deur Leoné Mostert
Op die 16de September sit en heeldag angstig en wag vir my doktersafspraak. Man, jy kon met my toor. Ek was bitter nervous.
Ek scroll vir die 300ste keer deur Facebook en Instagram en woeps, lui my foon. “Carley”. Carley? Hoekom bel sy my? Ons het jare laas gesels en mekaar nog meer jare laas gesien. Carley is ’n goeie skoolvriendin van my. Na skool het ons baie dae en aande gekuier en feitlik alles saam gedoen. Nadat ek Kaap toe getrek het, het ons effe kontak verloor. Mens beweeg mos in verskillende fases van ’n mens se lewe en ja, life happens. Ek het ’n mamma van’ n dogtertjie geword en sy die mamma van twee pugs. Haar eie ma is ook intussen oorlede en die lewe het draaie met beide van ons gestap. Feit bly staan, Carley was nog altyd ’n goeie vriendin van my en sou altyd wees al gesels ons nie elke dag nie.
Hoekom bel sy my? Net omdat sy al die vorige naweek aan my begin dink het en toe nou nie vir my uit haar gedagtes kon kry nie en my eenvoudig móés bel. Wow. Op daardie oomblik was dit vir my só lekker en ek het so dankbaar gevoel, want ek het daardie oproep van my ou tjomma eintlik nodig gehad. Sy het nie eers ’n idee wat my oorgekom het nie, maar sy het dit in haar gevoel om my te bel en dit het my hart warm laat voel.
My kringetjie is klein. My vriendelikheid is spotgoedkoop, maar my vriendskap peperduur. Dankie, Carley, dat jy my op daardie spesifieke oomblik van daardie spesifiek dag gebel het. I needed to hear your voice. Ek is dankbaar vir elke liewe een van my vriendinne, want ek weet al gesels ons vir jare nie, we will pick up right where we left off. Ultimately is dit wat vriendskap mos nou moet wees, of hoe?