Moenie die dooswyn vergeet nie!

Gisteraand woon ek die boekbekendstelling by van die nuutste boek, Marinda kook met blikkies en
pakkies
, van die kleurvolle en flambojante Marinda Engelbrecht. Ons is heerlik vermaak deur hierdie
kleuryke vrou en haar ongelooflike humorsin en die lyn wat ons die hardste laat lag het was: Moenie
die dooswyn vergeet nie!!!
Duidelik val dooswyn as ‘n kookwyn onder blikkies en pakkies.


Die gesprek word gelei deur een van Marinda se hartsmense, Ingrid Jones, en Ingrid vra lekker vrae
sodat vrae-tyd na die tyd amper-amper oorbodig is. Ek deel ‘n paar van die vrae wat ek interessant
gevind het.

Almal luister aandagtig


IJ: Jy het verwag hier gaan 10 mense wees en nou is hier ‘n 100? Hoekom dink jy kom mense?
ME: Ek dink hulle kom luister na my, want hulle kan nie kook nie. Saam met loadshedding is dit
seker die beste manier kos te maak.


IJ: Ek kyk nou een van jou vorige boeke: Maklik met Marinda. Dink jy dat mense boeke te
gekompliseerd maak en dat joune verkoop omdat dit so maklik is?
ME: Ek is nie op die A-list van publieke figure nie. Hoekom nie? Want my mark is die man in die
straat: die man wat by Checkers en ander kettingwinkels koop, die man wat Huisgenoot en die Kuier
tydskrif lees en wat saam met my in die Vallei rondloop. My aspirasie is nooit om gesofistikeerde kos
met produkte te skep wat jy by Takealot moet bestel nie. My produkte waarmee ek kook moet
beskikbaar wees in jou kas en maklik verkrygbaar by die plaaslike supermark. Ek dink my boeke is
toeganklik vir die deursnee massa-mark wat kook en eet soos normale mense.

Marinda & Surene


IJ: Hoe het jy besluit wat gaan hier in jou boek wees?
ME: Wat die boek interessant maak dink ek, is … normaalweg het jy ‘n boek met voorgeregte,
hoofgeregte en nageregte (en by the way daar agter staan ‘n nagereg: Hasiepoep. Het julle al
hasiepoep geeeet? Lekker, ne?) Ek het nie ‘n boek met daardie indeling gemaak nie. Ek het dit so
gemaak dat as jy jou kas oopmaak en sien jy het baked beans, dan gaan jy en kyk wat kan ek maak
met die blikkie in my kas, bv. Baked beans, kondensmelk, ens.


IJ: Wat moet ek koop of aanhou om my spens vol te hou met die basiese goed wat mens nodig
het?
ME: Voor in die boek is ‘n hoofstuk waar ek aanbeveel wat die basiese goed is wat jy moet
aanhou in jou spens.

“Mense het ook die idee dat blikkies en pakkies is vaal kos. Ek het spesifiek die boek gemaak om te
wys dat blikkies en pakkies kan fleurig wees en dat jy vir iemand ‘n mossel sop voorsit – vir van die
grandste mense.” – Marinda Engelbrecht

Reeds nr 1 by Exclusive books

IJ: In die beplanning van jou boek, het jy gaan kyk na hierdie goed soos MSG, gluten en al daai
goeters?
ME: Glad nie. Nee, dit was vir my glad belangrik nie, want die meeste geblikte voedsel het dit nie
in nie. Ek dink die meeste mense lees nooit wat op hulle pakkie staan nie. Die goed wat in ‘n blikkie
in is, kan ek jou waarborg is net so gesond soos vars produkte. Wanneer daar goed soos voedsel
kleursel bykom soos jellie, koeldrank, lekkers ens dan moet jy jou labels lees.

Marinda teken boeke

“Mense vra gewoonlik hoe skryf ek ‘n resep? Ek vat letterlik bv ‘n blikkie tamatiesmoor uit die kas. Dan kyk ek nou vir haar so. Dan dink ek wat gaan ek nou met jou maak? Ek dink drie-dimensioneel en sien hoe dit sou lyk as dit klaar is en dan skryf ek die resep met wat ek dink daar in moet wees. Ek kan al in my kop dink hoe dit kan proe. Ek erken nou vanaand: ek het al resepte geskryf wat ek nog nooit gemaak het nie. My resepte gaan na iemand toe wat dit alles uittoets en ek proe tot ek dink dit proe reg. Elke resep in my boek is duidelik geproe en beproef.” – Marinda Engelbrecht

IJ: Blikkies en pakkies – kook jy met wyn? Want dan moet dooswyn hier in kom.
ME: In die Voorwoord staan daar duidelik: Moenie van dooswyn vergeet nie. Weet julle, mense trek hulle neus op vir dooswyn, maar na die tweede glas proe alles dieselfde. Ek kook graag met wyn. Die grootste fout wat mense maak as dat hulle nie die wyn laat uitkook nie. Daai alkohol, sterk wyn smaak moet uitkook. By the way, ouens, die lekkerste oxtail wat ek al gemaak het, was met ‘n bottel Old Brown Sherry, wat ek van die begin af ingegooi het. Dus, gaan groot met dooswyn!

Toe Ingrid haar vra of sy dink die pad na ‘n man se hart loop deur sy ma, sê sy onomwonde: “Is jy mal? Dis veel laer!”

Dit was ‘n heerlike aand gevul met humor en lag wat mens moeilik op papier kan uitdruk. Mens moes maar self daar gewees het om die samehorigheid en die atmosfeer te kon beleef. There is just
no words to make you feel what I felt last night!!

Marinda kook met blikkies en pakkies is die ideale boek vir studente en mense wat kampeer. Al haar
resepte kan op ‘n stoof, en ook in ‘n mikrogolf of airfryer gemaak word.
Die wonderboek is uitgegee deur NB Uitgewers en soos Marinda Engelbrecht tereg sê: hulle is haar
mense en sy wil haar boek by niemand anders uitgee nie!!


Marinda kook met blikkies en pakkies (ISBN 9780798182966) is te koop by: Exclusive Books en Bargain Books, asook aanlyn by Takealot en Loot.
Dankie aan NB Uitgewers en Exclusive Books Tygervallei vir die uitnodiging na Marinda kook met blikkies
en pakkies
se bekendstelling.

Foto krediete: Eben Pienaar, Bemarking, NB Uitgewers